Rare vlermuis knip ‘n uiltjie in supermark
Vlermuise het oor die algemeen 'n nare reputasie en mense in die algemeen het 'n negatiewe houding jeens hulle.
LYDENBURG – Vlermuise het oor die algemeen ‘n nare reputasie en mense in die algemeen het ‘n negatiewe houding jeens hulle.
Tog is dié soogdiere een van ‘n mens se grootste vriende en raak hulle van menige pestilensies ontslae en lewer sodoende baie belangrike ekosisteemdienste.
‘n Skaars vlermuisspesie het egter verlede Dinsdag besluit om ‘n middagslapie onder Pick n Pay se dak te vang en vir groot opwinding gesorg.
“Dié dag het sekuriteitswagte ‘n vlermuis onder ‘n afdak naby die supermark se ingang opgemerk en planne begin beraam om dit te verwyder. Me. Elsie Meyer het op die insident afgekom en dadelik gekeer dat dit versteur word. Kort daarna het me. Lani Visser verbygekom en Meyer het die situasie aan haar verduidelik,” het
me. Lientjie Cohen van Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad (MPTA) aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel. Cohen het die toneel besoek waar die vlermuis nog rustig aan die dak gehang het.
“Dit was gelukkig in ‘n diep slaap en nie bewus van al die geskarrel om hom nie. Welwitsch se langhaarvlermuis is ‘n skaars spesie en word selde gesien.
Ek het nog net eenkeer voorheen dit in Zambië gesien. Die dier se uitsonderlike kleurpatroon is baie kenmerkend en onderskei hom maklik van ander spesies. Die bodele van sy lyf is ‘n ligte koperrooi terwyl die onderdele wit is met ietwat van ‘n rooikoper tint.
“Die vlerke het pragtige koperrooi en swart kleurskakerings wat ‘n sterk kontras vorm met die res van die liggaam se koperrooi en sterk rooibruin velmembrane wat swart gespikkel is. Om so ‘n spesiale spesie in ‘n onnatuurlike omgewing so blootgestel in ‘n publieke area aan te tref, gebeur nie elke dag nie en is voorwaar ‘n voorreg,” sê Cohen.
Sy meen dat daar slegs 12 rekords by nege verskillende areas in Mpumalanga aangeteken is waar dié vlermuis opgemerk is. “Die naaste rekord vanaf Lydenburg is in die Dullstroom-omgewing. Weens die min en yl verspreide rekords is dit moeilik om hierdie spesie se algemene verspreiding te karteer.”
Welwitsch se langhaarvlermuis eet snags insekte. Dit word meestal alleen aangetref en min inligting is omtrent die spesie se lewensgewoontes bekend.
Cohen en die MTPA spreek hul waardering uit vir Meyer se vinnige optrede om die vlermuis se lewe te red, asook Visser wat hulle genader het om dit aan te meld en wat foto’s en videogrepe beskikbaargestel het.
“Om hierdie spesie daar aan te tref was totaal onverwags en ‘n groot oomblik. Dit laat ‘n mens staan met ‘n glimlag van bewondering oor ons Skepper se goedheid. Sonder Visser en Meyer sou ons nie van hierdie groot verrassing te wete gekom het nie en ons bedank hulle daarvoor.”
Die vlermuis is weer later deur Cohen losgelaat. Vir meer inligting oor die vlermuis of as enigiemand op vreemde dierspesies afkom, kan me. Lientjie Cohen by
013-235-2395/6 geskakel word.



