Onoortreflike konsert by Laerskool Barberton
Alhoewel hierdie skool nooit nalaat om met konserte met iets ongelooflik vorendag te kom nie, was hierdie produksie sowaar die beste nog. Die leerders se talent is verstommend.

Die toneelstuk getiteld, All We Need is Love, wat verlede week deur die leerders van Laerskool Barberton op die planke gebring is was, om die minste te sê, uitstekend!
Vanaf die eerste noot het die gehoor geweet hier kom ‘n ding… Tussen ou gunstelinge soos Time Warp en Blue Suede Shoes, asook die meer moderne Hoor Hoe Raas die Stilte en Mwah! – “Sandra Prinsloo” ft. Elvis se Seun, was die danspassies energiek en vol verrassing.
Alhoewel hierdie skool nooit nalaat om met konserte met iets ongelooflik vorendag te kom nie, was hierdie produksie sowaar die beste nog. Die leerders se talent is verstommend.
As swanesang het hulle ‘n heel onverwagte haas uit die hoed gehaal – die onnies het self hul verskyning op die verhoog gemaak met toneelspel en dans op maat van I’m a Believer. Elkeen van die onderwysers het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. Benson Revu het boonop ‘n backflip gedoen wat die toeskouers gaande gehad het. Kort hierna het hy vlugvoetig van die verhoog gespring en op die skoot van ‘n verbaasde Thoko Khoza (Barberton-kringbestuurder van die Departement van Onderwys) gaan sit en ‘n roos te voorskyn gebring.
Na afloop van die konsert het die hoof, Robert Naudé ‘n hartlike dank aan almal oorgedra wat van die produksie so ‘n groot sukses gemaak het, insluitend die ouers en die res van die gemeenskap wat elke aand vir ‘n vol saal gesorg het.
Die dame verantwoordelik vir die skool se sosiale media, Adri Claasen, het dit pragtig opgesom in ‘n brief aan Barberton Times: “Dit is swaar om op te staan as die finale item verby is. Dit is asof ‘n mens wens dat jy vir net ‘n klein bietjie langer deel van die lied van die lewe en liefde kan wees. Dis dan dat jy besef: liefde is régtig al wat ons nodig het – All we need is love…”

































































































































