GalleriesNewsSchoolsSchools galleries

Kaskardag soveel meer as net pret en plesier

Die tradisionele kaskardag is 'n baie belangrike deel van die grootwordproses. Op sulke dae leer hulle nie net spanwerk nie, maar ook dat sakke vol geld nie altyd nodig is om pret te hê nie.

Teen dié tyd weet almal wat ‘n kind op laerskool het al wat ‘n kaskardag is. Hierdie tipe dae het die laaste dekade in gewildheid toegeneem en kinders in skole oral sien gewoonlik baie uit na so ‘n dag waar hulle nie op die skoolbanke hoef te sit nie.

Laerskool Barberton het ook nie agtergebly sover dit kaskardae betref nie en daar is die afgelope paar jaar nie meer net op kaskarresies gefokus nie. Die watersport wat aangebied word, het al hoe meer aftrek gekry en Vrydag tydens die tradisionele kaskardag, kon mens sien waar die trekpleister deesdae eintlik lê.
Bouwerpark is in ‘n miernes van kleur en klank omskep soos die kinders in groepe van die een na die ander waterprettigheid gehardloop het.

Tot dusver het hierdie geleentheid meer dikwels as nie met koel, nat weer gepaard gegaan, maar Vrydag het die son warm gebak. Iets wat die kinders natuurlik net nog meer aangespoor het om lafenis in die water te soek. Afgesien van die waterglybane, wat beslis die gróót lekkerte was, het die res van die speletjies ook vir hope pret gesorg.

Snaakse en vreemde insidente was daar ook en deur al die lag heen het een seuntjie hierdie joernalis aan die arm beetgekry en na sy maatjie gewys en gesê: “Mam, he is nasty with me and he says he is a Christian but he is cheating.” Hierdie “mam” het maar net gesê hulle moet mooi met mekaar speel en verder in haar mou gelag. Met die wegstap het sy besef dat klein goedjies soos regverdigheid selfs vir hierdie jong kinders ‘n baie ernstige saak is.

Net so is die tradisionele kaskardag ‘n baie belangrike deel van hulle grootwordproses. Op sulke dae leer hulle nie net spanwerk nie, maar ook dat sakke vol geld nie altyd nodig is om pret te hê nie. Hulle leer ook dat jy dalk nou met ‘n skelmstreek ‘n punt mag aanteken, maar dat dit jou iewers op die langeduur gaan inhaal wanneer jy as oneerlik uitgewys gaan word.

Elke onderwyser en ouer wat by die dag betrokke was, kan verseker weet dat dit oor soveel méér as net speel gaan. Dit vorm ‘n integrale deel van jong volwassenes in wording.
Welgedaan, Laerskool Barberton.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button