Vroue rol moue op om die te verfraai
As gevolg van 'n groep geesdriftige vroue, is dié dorp besig om stuk vir stuk 'n gedaanteverwisseling te ondergaan.
LYDENBURG – As gevolg van ‘n groep geesdriftige vroue, is dié dorp besig om stuk vir stuk ‘n gedaanteverwisseling te ondergaan.
Dames in Aksie soos hulle bekend staan, het gewys presies waarvoor daai “aksie” staan. Die groep het nou al die hele Voortrekkerstraat skoongemaak en verlede Vrydag in samewerking met die Thaba Chweu Munisipaliteit (TCM) die brug by die ingang van die Dullstroom-aansluiting geverf en opgeruim.
Selfs die burgermeester van TCM, me. Selina Mashigo het moue opgerol en ingespring met ‘n graaf en skuurpapier.
Phoenix Sekuriteit het ook tydens die gewerskaf gesorg dat daar yskoue koeldrank bedien is aan almal wat gehelp het met die verf en skoonmaak.
Die eindresultaat vir die eens vaal, onopmerklike brug het die asems weggeslaan. Die pragtige geel geverfde relings skep dadelik ‘n goeie indruk wanneer motoriste die dorp binne ry.
Die groep gaan ook dié Vrydag (vandag) die gedeelte agter Lydenburg Hoërskool skoonmaak ten aanloop van die interhoër wat volgende jaar hier plaasvind.

