Chris Barnard se been geamputeer
Na trombose in die been sowat twee jaar gelede, het hy gereeld met bloedsirkulasie gesukkel.
PRETORIA – Die bekroonde skrywer en gebore Laevelder, Chris Barnard se regterbeen is dié week in Pretoria geamputeer en hy word steeds in die intensiewesorgeenheid van die Wilgers Hospitaal behandel.
Na trombose in die been sowat twee jaar gelede, het hy gereeld met bloedsirkulasie gesukkel. Barnard se amputasie is ‘n skok vir sy gesin en veral sy vrou, Katinka Heyns, die bekende filmmaker.
Die been is onder die knie geamputeer en hoe lank Barnard nog in die hospitaal sal wees, is onbekend. Gister het sy seun, Stephan Barnard bevestig dat sy pa steeds in die hospitaal is maar “buite gevaar is”. Hy het gevra dat die familie se privaatheid gerespekteer word.
Barnard is volksbesit en ‘n ikoon in Afrikaanse literatuur met ‘n rits toekennings agter sy naam. Hy het twee keer die Hertzogprys vir Afrikaanse literatuur ontvang: in 1973 vir prosa vir sy twee romans Mahala en Duiwel-in-die-bos en in 1991 vir sy hele drama oeuvre. Talle ander literêre pryse is ook sedert 1961 aan hom toegeken. Hy is reeds verlede jaar met ‘n Fiësta-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot drama bekroon. Barnard is met ‘n staande toejuiging begroet toe die Fiësta aan hom oorhandig is. Hy is ook ‘n direksielid van die Innibos Nasionale Kunstefees wat elke jaar in die winter in Mbombela gehou word.
Sy wortels lê diep in die Laeveld gegrawe. Hy is in 1939 op Mataffin by Nelspruit gebore en in 1957 was hy van die eerste matrieks wat aan Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het. Hierna het hy sy BA-graad met Afrikaans-Nederlands en kunsgeskiedenis as hoofvakke by die Universiteit van Pretoria verwerf. In die 1960’s het hy saam met verskeie Afrikaanse literêre figure in die Beweging van Sestig as ‘n Afrkikaanse skrywer bekend geword.
Tydens sy suksesvolle loopbaan as draaiboekskrywer met televisiereekse soos Phoenix en Kie op sy kersfstok en rolprente soos Die Storie van Klare Viljee, Paljas en meer onlangs Die Wonderwerker, het hy hom weer in die Laeveld kom vestig en op boerdery toegespits. In 2012 is hy in sy opstal op die plaas Thuli, naby Nelspruit, aangeval.
Die skrywer is destyds deur vier mans op sy familieplaas oorrompel en vasgebind. Een van die rowers het Barnard sowat twee uur lank aangehou, terwyl die ander sy huis deursoek het na items om te steel. Hy is sowat 12 uur later deur werkers bevry. Hy het die afgelope tyd in ‘n aftreeoord by Mataffin gebly, dieselfde plek waar hy 76 jaar gelede gebore is.
