Oud-inwoner maak hart oop vir boere wat onder droogte ly
Oudinwoner Carla Oberholzer het tydens die droogte die geleentheid gesien om haar hart oop te maak vir die boere wat daaronder gebuk gegaan het
BURGERSFORT – Oudinwoner Carla Oberholzer het tydens die droogte die geleentheid gesien om haar hart oop te maak vir die boere wat daaronder gebuk gegaan het. Sy het haar liedjie, “Wat maak ‘n boer”, onlangs vrygestel en sedertdien het dit landswyd bekend geword.
Sy het in 2013 na Gauteng verhuis om haar drome as liedjieskrywer en sangeres na te jaag. In September 2015 maak Carla haar debuut in die musiekwêreld en haar drome word ‘n realiteit.
Sy kom kuier gereeld nog in die dorp waar sy al opgetree het by die Plaashuis en het in Mei die verhoog gedeel met Bongi van Idols by die Tubatse Fees.
Volgens Carla lê “Wat maak ‘n boer” na aan haar hart. “Ek het die liedjie geskryf vir al die boere en mense wat deur die droogte geraak word. Ek het as kind grootgeword in die Vrystaat en het self ook al die plaaslewe ervaar.
“Die droogte is baie erger as wat die mense besef; die diere sterf, die boere kry swaar, hulle mense kry swaar, dis vreeslik. Ek het gevoel dat ek my deel moet doen, al is dit net ‘n druppel in die emmer. Ek wil hê hierdie liedjie moet vertroosting en hoop bring,” vertel sy.
Carla gaan die verkope op iTunes van “Wat maak ‘n boer” skenk aan die Boere in Nood-organisasie.
“Die organisasie help om boere weer op hulle voete te bring nadat hulle deur die droogte geraak is. Die werk wat hulle doen is wonderlik, hulle het my geïnspireer om betrokke te raak,” voeg sy by.
