Hard newsNews

Renostertjie draai by dood om ná stropers hom kap

Na slegs twee dae by Care for Wild, het hy elke drie uur gulsig aan twee liter melk gesuig en tussen voedings ander vloeistowwe en elektroliete ingeneem

MBOMBELA – Lofo, ‘n agt maand oue renosterbulletjie, het Woensdag met sy aankoms by Care for Wild Africa Wildlife Rehabilitation Centre by die dood omgedraai, maar maak nou uitstekende vordering.

Hy het die stigter van Care for Wild, me. Petronel Nieuwoudt se verwagtinge oortref en is na slegs vyf dae by die sentrum reeds na die boma verskuif waar die ander groter renosters aangehou word.

Lofo (kort vir lost and found) het vyf dae op sy eie in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) rondgedwaal nadat sy ma deur stropers afgemaai is. Hy het nog maar net ‘n stompie waar ‘n praghoring hopelik oor ‘n paar jaar sal pryk, maar is ook ernstig deur die stropers beseer. Hulle het hom met ‘n skerp voorwerp op sy rug gekap, vermoedelik om hom te verlam.

Veldwagter mnr. Lisbeth Mathebula en streeksveldwagter mnr. Marius Renke het hom met die hulp van ‘n spoorhond, Frik aangekeer en verdoof. Dr. Markus Hofmeyr, hoof van SANParke se veeartse, het hom op die toneel behandel voor hy na Care for Wild geneem is.

“Hy het in ‘n vreeslike toestand by ons aangekom. Hy het twee diep wonde op sy rug gehad en ‘n stuk hout het boonop sy een voorbeen deurboor terwyl hy verward deur die bosse gehardloop het,” het sy vertel.

Lees ook: Rhino poached: state seizes vehicle

Hy was erg ontwater en in ‘n skoktoestand toe Petronel hom ingeneem het. “Hy was duidelik onder geweldige spanning en sy bloedglukosevlak en temperatuur was gevaarlik laag. Hy is behandel vir die dehidrasie en sy wonde is behoorlik gespoel en skoongemaak.”

Petronel en haar span het hom daardie nag fyn dopgehou en was verlig toe hulle merk dat sy asemhaling begin stabiliseer. Die volgende oggend was hy selfs honger en het later daardie dag uit ‘n bottel begin drink. “Die skok het afgeneem en hy het goed gedrink. Sy liggaamstemperatuur was weer normaal en sy bloedglukosevlak het mooi toegeneem,” het Petronel bygevoeg.

Lees ook: Rhino baby seeks help from vehicle

Na slegs twee dae by Care for Wild, het hy elke drie uur gulsig aan twee liter melk gesuig en tussen voedings ander vloeistowwe en elektroliete ingeneem. “Hy is nou baie kalmer en sy voedings is nou op ‘n gereelde basis.”

Petronel het almal bedank vir hulle bydraes tot die versorging van die diere. Care for Wild het nou ook ‘n sogenaamde YouCaring-blad waar mense skenkings kan maak. Besoek dit by https://bit.ly/1I0WWww.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button