Hard newsNewsNews

Woedende seekoei val hengelaars aan

Twee van haar reusetande het in die slagoffer se nek en skouer ingeslaan.

HAZYVIEW – ‘n Man, vermoedelik in sy dertigs, is Sondagoggend dood aangetref nadat ‘n seekoei hom langs die Sabierivier, net buite die dorp, aangeval het.

Die slagoffer en ‘n vriend het glo onwettig in die rivier gaan visvang toe ‘n reuseseekoei, vermoedelik ‘n koei, naby hulle opgemerk is. Die dier het die mans glo eers gewaarsku, voordat dit onder die water verdwyn en hulle van agter af bestorm het.

Die dier het twee van haar reusetande in die slagoffer se nek en skouer ingeslaan. Hy het reeds aan sy beserings beswyk met die nooddienste se aankoms. Die ander man, wat onbekend is aan Laevelder, kon daarin slaag om ondanks ‘n beseerde enkel, die verwoede dier se kake vry te spring.

Mnr. Jaco Klopper van Mpumalanga Animal Crime Watch (MACW) was toevallig in die omgewing om twee verdwaalde honde te help soek, toe hy op die toneel afkom.

Hy het aangebied om die polisie, wat reeds op die toneel was, by te staan en kon die man se liggaam suksesvol herwin. Hulle het aan Klopper die nodige toerusting verskaf om die herwinning veilig te doen.

Die oorledene se vriend was erg getraumatiseer en het aan Klopper vertel hoe hy sy klere afgeskeur, en moontlik ‘n fraktuur aan sy enkel opgedoen het in ‘n poging om weg te kom. Hy het getuig van ‘n baie noue ontkoming. “Ek sal nie sommer weer my voete naby ‘n rivier sit nie,” het die man aan Klopper vertel.

Klopper het aan Laevelder vertel dat die bytmerke se spasiëring getuig dat dit ‘n reuseseekoei was.

Kapt. Pottie Potgieter van die polisie se duik – en reddingseenheid het mense gewaarsku om uiters versigtig te wees naby riviere, spesifiek ten tye van droogte.

“In die huidige droogtetoestande is seekoeie aansienlik meer agressief oor hulle gebied.

“Dit is weens die lae watervlakke wat gebiede verklein en daarom word dit met oormaat beskerm,” het Potgieter gesê. Klopper het bygevoeg dat koeie boonop baie beskermend oor kalfies is.

Daar is nie tans planne om die dier van kant te maak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button