Romanse in die mis by Hops Hollow
As daar al ooit 'n romantiese Valentynsaand was, was dit dié een by Hops Hollow Vrydagaand.
LYDENBURG – As daar al ooit ‘n romantiese Valentynsaand was, was dit dié een by Hops Hollow Vrydagaand. Al die bestanddele waarvan romantiek gemaak is, was daar: die Longtom se mis op die berg, Hops Hollow se konkas en kaggelvure, bier uit ‘n tapvat, die uithaler-spyskaart – en Jannie du Toit se “Hartsnaar”-klanke.
Aan sy sy, die talentvolle Susan Mouton met haar tjello reg uit Johannesburg se simfonie-orkes uit.
Willie Botha, Fred Swanepoel en die Hops Hollow-span het soos altyd vir groot bederf gesorg met kos wat g’n mens by die huis sou kon maak nie. Hoe klink “filet met verleidelike oester-vulsel, in ‘n kaas-en-biersous, geroosterde groente met aartappelfilo-verrassings, vanielje-panacotta met aarbei en granadilla coulis…”
Dit alles in ‘n heerlik informele skuur-atmosfeer met Jannie se liefdesliedjies wat jou tone laat omkrul.
Tot laataand het ons saam gekuier, gewens die mooi musiek wil vir altyd aanhou. Lank lewe Romanse in die Mis en Hops Hollow se kultuur-kuiers.
