Karlien laat harte vuurwarm klop
Haar aanhangers het in groot getalle opgedaag om haar in lewende lywe te sien.

LYDENBURG – Karlien van Jaarsveld het Saterdagaand die inwoners met haar optrede in die stadsaal oorrompel. Haar aanhangers het in groot getalle opgedaag om haar in lewende lywe te sien.
Die sangeres het haar ondersteuners nie teleurgestel nie en kort voor lank het hulle haar gunstelingliedjies saamgesing.
Karlien en haar orkes wou graag Lydenburg besoek om die tuisdorp van haar roetekoördineer, Analda Breedt, te sien.
Volgens haar ma en bestuurder, Ronel Breedt, wou hulle sien waar Analda grootgeword het, waar sy skoolgegaan het en wou hulle graag tyd in die dorp deurbring.
Die ondersteuning van die plaaslike besighede het volgens Ronel, die sanger se besoek ‘n sukses gemaak.
Purple Gerko het verblyf aangebied terwyl André du Preez van Café Crust eetgoed voorsien het. AGWJ Printers het die drukwerk geborg terwyl Areal Estate & Lydenburg Timber Turf in beheer van die bemarking en kaartjieverkope was.
“Ons is werklik dankbaar vir die ondersteuning van die borge en vir die opkoms na die optrede. Die aand was ‘n groot sukses,” vertel Ronel.








