Local newsNewsNews

Kunsbeen staan nie in sy pad nie

Waglyste by staatshospitale is ellelank en min mense het dié soort geld om dadelik homself of 'n familielid van een te voorsien.

LYDENBURG – ‘n Kunsledemaat kos enigiets tussen R50 000 en R100 000.

Waglyste by staatshospitale is ellelank en min mense het dié soort geld om dadelik homself of ‘n familielid van een te voorsien.

Dit is juis híér waar die Paul Steyn-stigting probeer om ‘n verskil te maak.

Paul (29), die stigter van dié organisasie, het Woensdag ‘n draai by Steelburger/Lydenburg Nuus kom maak tydens sy landswye staptog om bewustheid te skep oor die behoefte aan kunsledemate.

Paul lê boonop die staptog af met sy eie kunsbeen. “Ek het in 2012 na my studies die organisasie gestig en sedertdien al 9 000km ver gestap. Sy huidige staptog het op

3 Augustus in Kaapstad afgeskop en hy het reeds 3 700km afgelê.

Paul gaan Maandag die roete na Sabie, Mbombela, Pietersburg, Pretoria, Rustenburg, Ottosdal, Kuruman, Springbok en al langs die Weskus af tot weer in Kaapstad aanpak.

Hy sleep’n 130kg-waentjie wat ‘n tent bevat, saam. “Op dié roete het ek net drie keer my tent gebruik. Ek slaap meestal oor op plase, gastehuise en hotelle wat vir my geborg word.”

Paul het al 12 mense gehelp om kunsledemate te kry. Die koste is ongelooflik hoog en hy bereken dat elke kunsledemaat tussen

R50 000 en R100 000 kos. “Baie van die mediese fondse betaal nie vir prostese nie. Hulle beskou dit as ‘n luukse. Dit is een van die redes hoekom ek stap. Ek redeneer as mens kan loop, kan jy werk.”

Paul het nog ‘n paar projekte wat wag en beplan ook ‘n televisiereeks in die nabye toekoms. Hy het op die ouderdom van 13 sy regterbeen tydens ‘n ongeluk op skool verloor. Dokters het hulle bes gedoen om sy been te red, maar moes dit amputeer toe gangreen ontstaan het. “Toe ek my been verloor het, was ek vir drie jaar op krukke. Ek moes só oor die weg kom. Ek het nie geld gehad om ‘n kunsbeen te koop nie en het eers op 16 jaar een gekry.”

Prostese word volgens elke persoon se behoefte en beenstompie gemaak. Die dele word van oorsee af ingevoer en dit is waarom die koste so hoog is. Die bene wat Paul aan mense skenk, hou ongeveer vyf jaar.

“Kyk, my been word soms seer en ek word ook soms keelvol, maar ek gaan maar net aan.”

Paul se pa, ook Paul, en niggie bly in Lydenburg en hy vertoef eers ‘n wyle hier voor die groot stap weer begin.

Hy bly in Gordonsbaai en in sy vrye tyd hou hy ook sy lyf akteur. Paul het al in 10 rolprente en TV-reekse gespeel waarvan die nuutste die rolprent Spelonk, is.

Glo dit of nie, maar Paul spits hom toe op aksietonele en het al as dubbelganger vir verskeie akteurs ingestaan.

Tog bly sy eerste passie om ander van kunsledemate te voorsien.

Hy konsentreer veral op die jeug en glo dat kinders ‘n normale lewe moet lei. “Kinders se prostese moet elke agt maande tot ‘n jaar aangepas word. Dit is baie geld en baie ouers kan dit nie bekostig nie.”

Paul se boodskap aan enigiemand is om nooit tou op te gooi nie. “Maak nie saak hoe moeilik die situasie is nie, bly positief en bly lewe.”

Skenkings om hom te ondersteun met sy onbaatsugtige werk kan gemaak word by die Paul

Steyn-stigting, FNB lopende rekening 62326196294, takkode 250655.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button