Krugerwildtuin se grootbaas takel jaagduiwels en rommelstrooiers
Glenn Phillips is 'n pragmatiese bestuurder wat deur sy diep respek vir sy personeel, die natuur en bewaring 'n verskil maak aan wanneer 'n strategie vir die toekoms vir die Nasionale Krugerwildtuin ter sprake kom.
SKUKUZA – Of dit nou jaagduiwels of grondeise is, die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) se grootbaas, mnr. Glenn Phillips, se praktiese benadering laat hom kans sien vir die groot verskeidenheid uitdagings op sy pad.
Onderliggend hieraan is sy filosofie dat, net soos in die natuur, tye verander en aanpassings ter wille van oorlewing gemaak moet word. Juis daarom sien hy ook uit na die eersdaagse vyfjaarlikse hersiening van die park se bestuursplan oor die volgende 18 maande.
Phillips en sy bestuurspan het die afgelope paar weke kwaai onder die spervuur deurgeloop, maar vir hierdie pragmatiese bestuurder is dit die groot én die klein prentjie wat tel.
Hy doen ‘n beroep op Kruger-liefhebbers en gemeenskappe om bewus te wees van openbare vergaderings wat gehou sal word om insette vir die bestuursplan te gee.
“Ek is opgewonde om ‘n paar dinge op ‘n ander manier te bestuur sodat ons kan tred hou met die veranderende eise van ons publiek, bewaring en bestuur.”
Een van sy oogmerke is dat gemeenskappe baat moet vind om langs die NKW te woon en dat ‘n kultuur van medeaanspreeklikheid gekweek word. Hierdie vooruitsig word op 21 Mei bewaarheid wanneer gemeenskappe wat grondeise ingedien het, uitbetalings van die regering sal ontvang.
Nog ‘n jarelange taai tameletjie is onlangs opgelos toe die minister van omgewingsake, me. Edna Molewa, toeste
mming verleen het vir die oprigting van die Malalane Safari-Oord.
Phillips verstaan die herrie wat daaroor losgebars het. Hy weet wanneer dit die wildtuin aangaan, loop mense se lojaliteit diep. “Ons reik uit na ‘n nuwe nie-tradisionele mark, maar ons moet ook besef waar ons in die groter bewaringsprentjie in Suid-Afrika inpas.”
Die NKW, as een van die vlagskip-geldmakers in die SANParke-portefeulje, het die verpligting om te sorg dat dit genoeg geld maak om die parke waar begrotings nie klop nie, te befonds. Slegs vyf uit die 22 nasionale parke maak ‘n wins. Die nuwe ontwikkeling sal die boeke help klop.
Dis nie net sulke oorhoofse uitdagings wat Phillips aanspreek nie. Hy voel ernstig oor ‘n paar alledaagse bestuursaangeleenthede soos ‘n rommelvrye wildtuin. “Bewusmaking by die hekke het gehelp, maar ons sal nog meer moet doen om die publiek aan te spoor.”
Vir hom is rommelstrooi ‘n persoonlike kwessie. Personeel word nie toegelaat om verby rommel te ry nie. Dit is ‘n bekende gesig om Phillips self te sien rommel optel.
Sy langtermyndoelwit is om besoekers aan te moedig om hul rommel huis toe te neem om sodoende minder druk op die park se herwinningstelsel te plaas. Hy het reeds opdrag gegee dat projekvoorstelle hieroor gemaak moet word.
Jaagduiwels gaan ook in die toekoms meer en meer les opsê as hy sy sin kry. Phillips voeg die daad by die woord. “Ek trek gereeld self mense af vir spoedoortredings.”
Daar was onlangs ‘n groot bohaai op sosiale media oor ‘n jagluiperd en impala wat doodgery is. Die skuld word voor die deur van spoedvrate gepak en Phillips werp alles in die stryd om sulke oortreders vas te vat.

Alle NKW-voertuie wat deur personeel gebruik word, is met GPS toegerus sodat bewegings gevolg kan word. Daar word dissiplinêr teen personeel opgetree. Hulle word ook ‘n boete opgelê. Wanneer ‘n personeellid meer as drie keer vir oortredings van die spoedbeperking aangespreek is, word hulle ontslaan.
Hy sê daar word gereeld aandag geskenk aan die inwerkingstelling van stelsels wat kan help om die uitdagings rondom spoedoortredings op te los. Tans word die hekstelsels vir toelating tot die wildtuin opgegradeer sodat data rondom nommerplate en lisensies ingevoer kan word en sodat inligting oor oortreders op ‘n databasis beskikbaar is.
Daar word ook oorweging geskenk om in die toekoms radio-herkenningsplaatjies te gebruik om te bepaal waar voertuie in die wildtuin beweeg.
Tesame met tyd-oor-afstandstelsels sal dit beamptes in staat stel om te sien of voertuie tussen twee punte gejaag het. Daar is agt verkeersbeamptes in die wildtuin.
Die enigste uitdaging is nog lank nie net om oortreders vas te trek nie, maar ook om boetes in te vorder. “Ons sal strewe tot ons werkende oplossings vir al hierdie kwessies kry,” sê Phillips.
