Local newsNewsSANParks

Wildehondtroppe se kanse op oorlewing al skraler

Verskeie bewaringsorganisasies neem hande om wildehonde te red nadat 'n uitbreek van hondesiekte en stel van stroperstrikke hulle voortbestaan bedreig.

SKUKUZA-Met lokstrikke wat al hoe meer wildehonde laat vrek en hondesiekte sowel as hondsdolheid wat hul tol eis, is Suid-Afrika se mees bedreigde karnivoorspesie se oorlewingskanse aan die uitdun.

Die verlies onlangs van ‘n hele trop wildehonde bestaande uit 13 honde van die Onder-Sabie-trop, is ‘n groot terugslag vir die Nasionale Krugerwildtuin (NKW). So het die trop gelyk: (Video deur Africa Adventures You Tube).

Die trop het gevrek as gevolg van ‘n uitbreek van ‘n dodelike virusinfeksie bekend as hondesiekte.

Grant Beverley
Grant Beverley

Grant Beverley, ‘n veldwerker vir die karnivoor-bewaringsprogram van EWT in Hoedspruit, sê dat na ‘n vergadering, met SANParks en die staatsveearts is die EWT gereed om ‘n voorstel van dr. Louis van Schalkwyk vir befondsing voor te lê om voort te gaan om die wildehonde binne die NKW te monitor met die oog daarop dat ‘n siftings- en inentingsprogram in werking gestel kan word. Navorsers van die EWT sal hom bystaan om die troppe te monitor. Beverley het reeds ‘n beroep op die publiek gedoen om hom hiermee by te staan. Skakel hom gerus by 0714707112 as jy wildehonde in die KNP gewaar.
Volgens die projek se sensussyfers is die Suid-Afrikaanse gevlekte groot ore met minder as 450 oor die mees bedreigde spesie in die land. In 2004 is die bevolking in die NKW op slegs 151 geraam. In 1994 was daar ‘n geraamde 434 van die diere in die wildtuin. Die 2014-2105 NKW-sensus wys daar is ongeveer 220 in die wildtuin volgens Beverley.

Hondesiekte (canine distemper) is ‘n siekte wat gewoonlik onder huishonde voorkom. Daar is nog nie seker hoe die wilde honde die siekte opgedoen het nie. Die moontlikheid bestaan dat hulle dalk kontak met ‘n rondloper-huishond kon gehad het.

Dr. Markus Hofmeyr, hoof van NKW se vee-artsdienste, sê die beste strategie teen nog so ‘n uitbreek is om mak honde in te ent vir die siekte. “Dit is gewoonlik moeilik in gemeenskappe waar vee-artsenykunde nie baie goed teenwoordig is nie. Mense verstaan nie watter risiko’s honde vir hulle inhou nie as hulle nie ingeënt word nie. Hondsdolheid is een siekte wat deur mak honde oorgedra kan word aan mense. Verlede jaar het ‘n uitbreek van hondsdolheid juis ‘n klompie wildehonde se lewens geëis. Hondesiekte tas gelukkig nie mense aan nie, maar is ‘n groot bedreiging vir wilde roofdiere.

Markus Hofmeyr 1
Dr. Markus Hofmeyr

Om so ‘n program van inenting van honde rondom die NKW aan te pak is egter ‘n reuse uitdaging.

“Ons sal hulp van NGO’s sowel as staatsveeartse moet kry om gesamenlik teen hondsdolheid en hondesiekte in te ent. Ongelukkig betaal die staat nie vir hondesiekte-inentings nie. Dit is nie ‘n gekontroleerde siekte nie. Ons het dus ondersteuning van NGO’s, soos die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) of gemeenskapsveeartsklinieke, nodig om die hondesiekte-entstof te voorsien.”

Die uitbreek van hondsdolheid wat tot die uitwissing van die Guernsey-trop in Hoedspruit gelei het, het daartoe gelei dat geld nou ingesamel word vir ‘n inentingsprojek teen hondsdolheid in gemeenskappe langs die westelike grens van die NKW en Hoedspruit. Die projek is aangepak deur EWT in samewerking met Activating Africa.

Hofmeyr het ‘n beroep op besoekers gedoen om te help deur enige wilde honde wat hulle opmerk wat wel siek lyk by veldwagters aan te meld. Tekens om voor uit te kyk is ‘n wankelrige manier van loop.

“Daar kan egter ook amper geen tekens wees behalwe moegheid en dat die hond swak lyk. Hulle sal ook gereeld hoesgeluide maak want die siekte tas die longe van die diere aan,” sê Hofmeyr.

Een van die ander uitdagings rondom die bewaring van die troppe is om die stel van lokstrikke te beperk.

“Baie gaan dood as hulle in strikke gevang word. Dit sal ook net opgelos kan word as strenger wetstoepassing teen die gebruik van strikke ingestel word. Ons veldwagters sowel as die ere-veldwagters werk hard om strikke te verwyder, maar in afgeleë plekke en in Mosambiek is dit baie moeilik. Indien die honde die NKW verlaat, is dit ‘n groot risiko.”

As deel van die Karnivoor Bewaringsprogram van die TBN sal ‘n projek ook geloods word om die uitwerking van lokstrikke op karnivore te ondersoek. “In hierdie stadium is ons besig om ‘n databasis van lokstrikke in die Laeveld saam te stel om hoë lokstrikgebiede te identifiseer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button