Garnaalpret lok weer duisende
Duisende feesgangers het hierdie jaar weer na die Komatipoort Prawn Festival gestroom vir optredes deur van die land se gunsteling-musikante en groepe asook hul beroemde garnale.
KOMATIPOORT – Die gewilde jaarlikse Prawn Festival het Donderdagoggend met ‘n uitstaande vertoning van die Nasionale Polisie-orkes by Komati Square begin en Saterdag amptelik met ‘n laataandvertoning van Saarkie afgesluit.
Daar was meer as 100 stalletjies wat alles vanaf juwele en handsakke tot kombuistoebehore en banting-benodigdhede verkoop het. Dié wat garnale opgedis het, het natuurlik die fluksste besigheid gedoen. RCL Foods se stalletjie het heelwat voete gelok en skougangers kon meer leer oor hul suikervervaardigingsprosesse en met ‘n produk as geskenk wegstap.

In die Pam Golding se natuurbewarings-tent het Alta Triegaardt toegewyd saam met Moholoholo, Dullstroom se roofvoël- rehabilitasiesentrum en Lowveld Venom Supplies gewerk. Bullet, die jagluiperd was baie gewild, en besoekers kon sy stert streel of aan ‘n swart mamba raak.

Die skoukomitee, wat verskeie liefdadigheidsprojekte gedurende die jaar onderneem, het weer Vrydag aan senior burgers gratis toegang verleen. Billy Forest & Friends het die vermaak tydens ‘n ete deur die VLU Lebombovallei-tak verskaf, en Solidariteit Helpende Hand het aan elk ‘n kussing geskenk. Mnr. en Mej. Komati, Angelique Stronkhorst en Lourens Stassen het aan elke gas ‘n snoesige kniekombersie oorhandig.
Daar was heelwat uitstallings deur plaaslike besighede asook dié in die boerdery- en jagbedryf.
Ten spyte van die droogte het die grootste trosse piesangs ooit die skaal by die piesangtros-kompetisie laat kreun.

Die rekordgewig van 90,80kg is deur Vergelegen behaal, met Inyoni in die tweede plek met 84,60kg en Schoonspruit derde met 82,10kg. Nog ‘n rekord het gespat met Inyoni wat die gesamentlike troskompetisie met 245,1kg gewen het. Vergelegen was tweede met 242,2kg en Schoonspruit derde met 235,7kg.
Saterdagaand was Steve Hofmeyr se optrede die hoogtepunt op die vermaakprogram. Daar het ongeveer 3 000 feesgangers opgedaag, meer mense as wat enige kunstenaar die afgelope dekade kon lok.

Hofmeyr het ná ‘n dramatiese voorskou uit die rolprent Treurgrond,verskyn en die skare het sy verskeidenheid ou en nuwe treffers geniet. Die organiseerders hoop om hom volgende jaar weer op die feesprogram te hê.
Ander topkunstenaars was Billy Forrest & Friends, Vasti, Perspektief, DJ Ossewa, Jak de Priester, Beeskraal, Dozi, Charlize Berg en Saarkie.
Volgens sommige jong feesgangers was die pretpark die lekkerste deel, terwyl die volwassenes die kuier saam met bekendes die meeste geniet het.
Kyk na meer foto’s hier.
