Hard newsLocal newsNewsNews

Boere en inwoners spring in om onooglike gemors te verwyder

Tonne rommel en vullis langs die Frischgewaagd-pad is Maandag deur AfriForum weggery nadat boere en inwoners in dié omgewing hul ongelukkigheid oor die opgehoopte gemors langs die pad uitgespreek het.

LYDENBURG – Tonne rommel en vullis langs die Frischgewaagd-pad is Maandag deur AfriForum weggery nadat boere en inwoners in dié omgewing hul ongelukkigheid oor die opgehoopte gemors langs die pad uitgespreek het.

Die vullis word deur onwettige besetters van ‘n stuk munisipale grond gestrooi.

‘n Jaar gelede het hierdie mense eenvoudig erwe op die grond langs dié pad begin afmerk. Die munisipaliteit het destyds aan die koerant gesê dat hulle regshulp gaan bekom om die besetters na geskikte grond te skuif, maar daar het dadels van gekom.

Intussen is daar al honderde plakkershutte opgerig en selfs permanente huisstrukture is gebou. Niemand weet wie die grond aan die plakkers uitgewys het nie, maar ‘n paar van die inwoners het bevestig dat hulle dit by ‘n ANC-raadslid “gekoop” het. Natuurlik, weet niemand wat sy naam is nie.

Mnr. Johann Weber, streekskoördineerder van die Mpumalanga-Oos AfriForumtak, het vir Steelburger/Lydenburg Nuus vertel dat menige inwoners langs dié pad die burgerregteorganisasie geskakel het en hulle misnoeë oor die rommel uitgespreek het wat langs die pad lê.

“Die takbestuur het besluit om in te gryp om die gemors langs die pad skoon te maak. Die rommel lê tot teen die pad. Moet dit net so gelos word? Die stadsraad kan ten minste een keer ‘n week plan maak om die rommel weg te ry,” meen Weber.

Hy sê AfriForum sal vir ‘n ruk opruiming doen, maar gaan die stadsraad vir die kostes aanspreeklik begin hou. Die forum het met behulp van ‘n TLB en trok teen 10:00 reeds tonne vullis weggery.

‘n Inwoner van een van die aangrensende plase, me. Lizette le Roux het aan Steelburger/Lydenburg News gesê dat dit nog nooit voorheen só erg was nie. “Ons word nou verswelg deur die vullis. Dit is ‘n groot gesondheidsrisiko.”

Weber het gesê dat AfriForum dié opruimingsprojek in goedertrou doen. “Ons kan dit egter nie die heeltyd doen nie en voor ons dit weer aanpak, gaan ons vir die stadsraad ‘n aanmaningsbrief stuur en die kostes van hulle eis.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button