Hard newsNews

Veelbesproke skildery terug by die huis

Die skildery is in 2015 by me. Polly Botha weggeneem.

MBOMBELA – ‘n Plaaslike kunsversamelaar is na byna ‘n jaar weer met haar Adriaan Boshoff-skildery herenig wat verlede jaar op bevel van die Nelspruit Landdroshof van haar af weggeneem is.

Die skildery, getiteld Cosmos Fields, is vir R2,1 miljoen gewaardeer en deur die balju uit me. Polly Botha se huis verwyder, omdat dit kwansuis van kardinale belang in ‘n kunsgalery se insolvensievehoor sou wees. Botha het intussen bevestiging ontvang dat haar skildery niks met ‘n insolvente boedel te doen het nie en die pragstuk pryk nou weer teen haar muur.

Lees ook: Famous missing painting seized in Mbombela

Die storie rondom die balju se beslaglegging op die kunswerk het Laevelder se lesers aangegryp. Hierdie skildery was immers deel van die Adriaan Boshoff-versameling wat nuusopskrifte landswyd gehaal het toe sy dogter, Louise, in 2012 daarvan beskuldig is dat sy werke laat verdwyn het. Louise, eienares van die Adlou Expressionistic Art Gallery in Hartbeespoort, het glo as beskermheer opgetree vir van haar pa se werke, wat reeds verkoop was.

In plaas van om die kosbare kuns in hul huise aan te hou, sou die eienaars dit in haar gallery uitstal, waarvandaan dit na bewering spoorloos verdwyn het. Die gallery se vrywillige likwidasie is toegestaan in dieselfde tyd as wat die eienaars van Cutting Table (R500 000 tot R850 000 werd), Mother and Child (R280 000 werd) en By the Bluegums (R500 000 werd) met hierdie klagtes vorendag gekom het.

Nog een van sy werke, Cosmos Fields, is ‘n jaar na sy dood deur sy dogter vir R2,1 miljoen gewaardeer. Toe haar gallery gelikwideer is, het ‘n mnr. Gerhard Heyneke beweer dat die skildery aan hom behoort het en dit van haar af probeer terugeis.

Cosmos Fields is egter intussen aan Botha verkoop. Die koopkontrak in terme waarvan Botha die kunswerk gekoop het, is aan Laevelder voorsien. Louise was die verkoper en ‘n plaaslike handelaar het as agent tussen haar en Botha opgetree. Botha moes die koopprys in maandelikse paaiemente aan die agent oorbetaal.

Toe die balju haar hek drie jaar later oopgebreek het om die skildery te konfiskeer, was Botha geskok. Laevelder het na die beslaglegging berig dat die skildery in terme van ‘n lasbrief aan die Adlou-galery se likwidateurs oorhandig is. Vir Botha en haar prokureur, mnr Henk Frey, was dit die begin van ‘n regstryd waarin hulle wou bewys dat die hofaansoek wat daartoe gelei het dat Botha haar skildery kwyt is, defektief was.

Frey het die besonderhede van hul argument aan Laevelder verduidelik. “Die bewering is gemaak dat Louise Cosmos Fields aan Botha verkoop het, terwyl dit eintlik aan Heyneke behoort het.

“Die bewysstukke waarop staatgemaak is om dit te bewys, was egter gebrekkig,” het hy gesê. Volgens Botha en Frey weet niemand hoe en wanneer Heyneke eienaar geword het van die skildery nie.

“Nie Heyneke of Adlou se likwidateurs kon nog met ‘n koopkontrak met Heyneke as koper vorendag kom nie,” het Botha gesê. Alhoewel ‘n waardasiesertifikaat, uitgereik deur Louise, waarop die naam “Gerhard” in dik, swart viltpen geskryf staan, by die hof ingedien is, meen Frey dat dit nie bewys dat Heyneke die skildery gekoop het nie.

Die likwidateurs van Adlou-galery se prokureur het op 11 Mei vanjaar ‘n brief aan Frey gerig. Daarin het hulle erken dat daar geen bewyse bestaan dat die skildery ‘n boedelbate van Adlou is nie en dit is van die beslaglegging vrygestel. Dus is Cotton Fields nie deel van die bates wat deur Adlou se likwidasie geaffekteer word nie.
Botha kon haar skildery terugkry, maar sluk steeds swaar aan die slegte ervaring waardeur sy ‘n jaar gelede is.

“Wanneer ‘n mens se naam by so ‘n toestand ingesleep word, maak mense verkeerde afleidings,” het sy aan Laevelder gesê. Frey het beklemtoon dat sy kliënt bloot die bedoeling gehad het om ‘n skildery te koop. “Sy was totaal bona fidei,” het hy gesê. Louise het, volgens Botha, Frey en likwidateur mnr. Victor Manuel Ferreira Gravato, spoorloos verdwyn. Opsporingsagente, die polisie en balju’s was die afgelope paar jaar sonder sukses op haar spoor, maar sy het volgens Gravato die vermoë om “spore te maak wanneer omstandighede dit vereis”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button