Hard newsNewsNews

Aanvallers teiken deesdae jou werkers

Dit is 'n ongekende toename in dié tipe misdaad, en Mbombela se inwoners moet wakker wees.

UITKYK – Twee gewapende rooftogte het onlangs in die Renosterkop- en Sterkspruit-areas plaasgevind.

Vier gewapende mans wat hulself glo as polisiebeamptes voorgedoen het, het verlede Dinsdagoggend ‘n huis in die eersgenoemde area beroof. Die verdagtes, wat volgens Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit in ‘n swart Audi sonder ‘n registrasienommer by die huis opgedaag het, het die tuinier en huishulp in die huis ingeboender en vasgebind. Die kluis is na bewering met ‘n hoekslyper oopgesny en twee vuurwapens is gebuit. Hulle het met die Audi gevlug en is nog op vrye voet.

‘n Soortgelyke geval het ‘n dag daarna in die Sterkspruit-area plaasgevind, waartydens die tuinier en huishulp ook vasgebind is. ‘n Onbekende bedrag geld is tydens die voorval gebuit en niemand is beseer nie. Daar is egter geen bewyse dat die twee gevalle met mekaar verband hou nie, maar mnr. Vernon Lancaster van Hi-Tech waarsku dat dit ‘n nuwe tendens is waarvoor plaaslike inwoners uiters versigtig moet wees.

“Dit is belangrik dat jou huishulp opgelei en paraat gemaak moet word,” sê Lancaster. “Hulle moet weet wie om te bel as daar ‘n noodgeval is. Dit is ‘n goed beplande misdaad wat gewoonlik plaasvind as die inowners van die huis nie tuis is nie,” voeg hy by. “Dit is ‘n ongekende toename in dié tipe misdaad, en Mbombela se inwoners moet wakker wees. Kyk vir enige tekens wat dalk kan dui op ‘n beplande aanval, al is dit helder oordag,” sê hy.

‘n Plaaslike inwoner, mnr. Jan Fokkens sê wanneer hy moet dorp toe gaan, sê hy sy huishulp elke keer aan om die paniekknoppie by haar te dra en nooit die deur vir enigiemand oop te maak nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button