Help! Ek het 80 krokodille geërf!
As jy die Laeveld se Crocodile Dundee ontmoet moet jy nie verbaas wees nie. Sy is elke sentimeter 'n dame, maar sy weet hoe om 'n krokodil in drie minute te vang.

MBOMBELA – “Krokodille is ongelooflik sensitief,” sê Marelize Pienaar terwyl sy die twee jaar oue krokodil wat sy sopas opgetel het, neersit en vinnig wegspring. Die krokodilvangery kom nie vandag sonder ‘n skrapie nie. Sy kyk ongeërg na die besering want sy bekommer haar meer oor hoe “gestres die arme dingetjie nou is” terwyl sy bloed van haar arm afvee.
Vir een oomblik is die slimkop elke sentimeter ‘n lady met goedversorgde naels en ‘n lekseltjie lipstiffie voordat sy die krokodilkamp se warmhou-ligte verstel en handig regmaak.
Sy en ‘n vriend het al ‘n paar stelle afgetrap, veral tydens die verskuiwing van krokodille van kamp tot kamp. As so ‘n gespierde stert jou wind uitgeklap het, vergeet jy dit nie gou nie.
Hierdie dapper jong administratiewe bestuurder by ‘n pro-lewe diere-organisasie weet waarvan sy praat. Toe haar pa, Dries Pienaar, eens verbonde aan die Mpumalanga Parkeraad, in 2014 aan kanker oorlede is, het die onus op haar skouers geval om sy 80 krokodille in kampe tussen die makadamiabome op Paul Viviers se plaas, Rock View Lodge, in die Burnside-omgewing te versorg.
Daar was menigte nagte die afgelope paar jaar wat sy haarself moedeloos en in trane afgevra het: “Waarheen gaan ek met 80 krokodille?”
Want kyk met ‘n krokodil kan dinge maar ook gou verkeerd loop. . .
Sy bedryf haar KLP Crocodile Farm egter só goed dat sy nog net een krokodil in twee jaar verloor het.

Toe sy pas die versorging van die troppie oorgeneem het, was daar verskeie opsies soos om hulle aan wildplase te verkoop of om met hulle te teël vir kommersiële doeleindes deur hulle te slag en die velle te verkoop. Sy het selfs daaraan gedink om die besigheid as ‘n pretpark vir toeriste te ontwikkel.
Maar dit strook nie met die waardes van hierdie beginselvaste swartkop wat eers ‘n prokureur wou word en nou aan Unisa verskeie vakke, soos byvoorbeeld arbeidwetgewing, studeer nie.
“My werk saam met pro-lewe diere-aktiviste het my laat besef dat ek wil hê my spannetjie moet gevoer word, veilig wees, nie seerkry, geslag of gejaag word nie.”
“Ek aanvaar die natuur se siklus van lewe en dood soos dit op ‘n natuurlike manier gebeur.”
Sy het ‘n sterk bewaringsbewustheid. “Dis vir my belangrik dat ek nie wins uit hulle maak nie. Mense wat geld maak uit wild, werk dikwels nie reg met die diere nie en neem nie verantwoordelikheid vir hulle welsyn nie.”
As jy sien hoe die sweepsterte op hul kort bene nader waggel na hulle haar stem hoor, besef jy hoeveel toewyding en ure sy hier deurbring. Elke week verorber die 80 krokodille 300 hoenders.
In die begin was dit vir haar ‘n reuse-uitdaging om soveel kos in die hande te kry.
Mettertyd kon sy toestemming by ‘n hoenderboerdery kry om ‘n vrieskas by hul aanleg te plaas. Elke week maak hulle goedgunstiglik en gratis die vrieskas vir haar vol hoender-breekstukke.
“Dit was ‘n saak van gebed. Ek weet nie hoeveel sulke gebede opgaan nie, maar myne is wonderbaarlik beantwoord,” verduidelik sy.
Om die 60-kilogramsakke bevrore hoender rond te sleep en aan te ry, is bloot die begin. Die hoenders moet dan spesiaal opgekap word vir hierdie lekkerbekke.
Drie kampe moet skoongehou word en die heining moet onderhou word. Die krokodilbabas moet veral in die winter die luukse van spesiale warm ligte dag en nag in hulle kampie hê.
“As oom Paul nie hiermee sou help nie, weet ek nie wat ek sou doen nie. Als raak soms te veel. Sommige dae is moeiliker as ander. My ma, Lieze, help om my innerlik sterk te hou. Sy moedig my aan om aan te hou. Ek weet dit is wat my pa sou wou gehad het.”
Omdat die groot kalante maklik die kleintjies bykom, is dit noodsaaklik dat hulle in verskillende kampe aangehou word. Sy verduidelik ook hoekom krokodille nie tonge nodig het nie.
“Mens tel maar die ekstra kennis oor hulle op as jy so gereeld met hulle werk,” verduidelik sy. Wat sy nie weet nie, probeer sy oor oplees, veral oor reptiele se gesondheid. Sy maak ook staat op die kennis van ‘n kenner op die gebied, Johannie Mouton.
Maar as sy haar boekkennis vir eerstehandse kennis verruil, is daar een ding wat sy gou uitwys al is sy ook hoé lief vir die geel en bruin lywe wat in gelid langs die water lê en sonbaai.
“Mense is onder ‘n wanindruk. Krokodille is nie aggressief nie. Hulle is eintlik ongelooflik lui.”
Iets waarvan jy Marelize Pienaar nooit van sal kan beskuldig nie.

