Raaisel oor Satara se wit apie verdiep
Die wit "spook"-apie van Satara in die Nasionale Krugerwildtuin laat almal wonder. Wat het van hom geword en waaraan is sy wit kleur toe te skryf?

SKUKUZA – Toe toergids en fotograaf Quintin van der Merwe twee jaar gelede ‘n piekniekmandjie uitgepak het in ‘n kamp noord van Satara in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW), het hy skaars sy ontbyt begin eet of die grys-apies het nadergestaan vanuit die bome om rondom die gaste te baljaar en hulself aan hul eie stewige ontbyt van bessies te help.
Sedert hy ‘n toergids is, het Quintin deur sy kamera se lens vele interessante en opwindende diere gesien. Niks kon hom egter voorberei op die sonderlinge ervaring wat vir hom voorgelê het nie.
Tussen die groep apies het daar skielik ‘n bleekwit apie verskyn en homself gehelp aan ‘n klomp bessies.
“Dit was ‘n unieke geval. Hy het vrolik saam met die ander gespeel en hulle het hom heeltemal aanvaar,” sê Quintin wat terstond sy kamera nadergetrek het en begin kliek het.
Deur sy lens kon hy sien die krulstert het ‘n ligte velpigment.
“Hy het ‘n oumensgesig gehad, maar mens kon sien aan sy streke en pote dat hy nie te oud was nie,” sê hy.
Quintin het ‘n ondersoekende brein en doen graag navorsing oor sy belangstellings soos eiesoortige voorbeelde van spesies.
Sy filosofie oor die natuur is dat hy met elke besoek meer wil waarneem en meer wil leer. Hy het dus nie net die rare oomblik in die natuur geniet nie, maar alles van die apie probeer inneem.

Netsowel… Quintin sou nie weer die apie sien ten spyte daarvan dat hy as gids dikwels in die wildtuin kom nie.
Tuis sou hy dikwels die foto bestudeer. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die apie ‘n leukistiese afwyking het. Dit is ‘n genetiese aandoening.
Hy het net sy foto’s gehad om seker te maak, want die wit “spookapie” van Satara was skoonveld.
Toe Laevelder vandeesweek vir Steven Whitfield, area-veldwagter vir Satara geskakel het, het Steven nie van die sonderlinge dier geweet nie.
“Jammer, dit is die eerste keer wat ek van die wit apie hoor,” het hy gesê.
Laevelder het die foto’s van die apie aan dr. Markus Hofmeyr, hoofveearts van SANParke, gewys. Ook hy weet nie van die apie nie, maar is van mening dat die apie wel ‘n albino is.
“Dit lyk soos ‘n albino, want sy oë is blou en vel is pienk. Sulke diere is weens genetiese afwykings sonder pigment gebore,” sê Hofmeyr.
Hy het ‘n verklaring oor hoekom die apie dalk nie weer gesien is nie.
“Die kanse is groot dat die dier nie lank sou oorleef nie. Hy sal waarskynlik as gevolg van sy veltoestand en die son se skadelike UV-lig swaargekry het. Hy sou ook gou as teiken deur roofdiere doodgemaak gewees het,” verduidelik Hofmeyr.

Leukisme en albinisme word dikwels verwar. Met albinisme is daar ‘n afwesigheid van melanien wat kleur gee aan vel, vere, hare en oë. Werweldiere met albinisme is meer eweredig bleekgeel en het bleek oë wat soms pienk of rooi is.
Met leukisme is daar pigmentarmoede wat die dier ‘n wit of gekolde dowwe vel en pels gee, maar die pigmentselle van die oë self word nie geraak nie.
Die pienkbruin luiperd van Lydenburg-distrik weer is deur navorser Tara Pirie geidentifiseer as eritristies.
Sou jy die spookapie van Satara sien of enige ander buitengewoon wit dier sien, is die lakmoestoets dus die oë.
Voorlopig is daar slegs Quintin se foto’s van die ratse wit wonder van die wildtuin.
• Het jy dalk hierdie apie in Satara gesien? Laat weet op elize@lowvelder.co.za

