Hard newsNews

Sake teen mediaman Jannie van der Berg teruggetrek

"Die tronk is alles wat jy jou verbeel het - net erger."

MBOMBELA – Voormalige Radio Laeveld-omroeper mnr. Jannie van der Berg het gisteroggend met ‘n huppel in sy stap die Nelspruit Landdroshof verlaat. Hy het baie gehad om oor bly te wees – hy is in twee howe van klagtes teen hom kwytgeskeld.

“Ek was eers in die strafhof, waar die klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, gemedieer is. Daarna is ek na die gesinsgeweld-hof toe, waar ek gehoor het dat ek nie meer van die oortreding van beskermingsbevele aangekla gaan word nie.”

Nadat hy hierdie goeie tyding ontvang het, was Van der Berg bereid om die skikkingsooreenkoms te onderteken wat die bepalings rondom sy egskeiding uiteensit.

Van den Berg is op 7 April by Sonpark Boulevard gearresteer terwyl hy besig was om kruideniersware te koop. Die polisie se kapt. Dawie Pretorius het aan Laevelder gesê dat hy van aanranding met die doel om ernstig te beseer, verdink is.

‘n Bron na aan die ondersoek het verklap dat sy vervreemde vrou, Lexa, die slagoffer was. Lexa het op daardie stadium reeds twee beskermingsbevele teen Van den Berg verkry. Die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het, was toe Van den Berg glo op Woensdag 6 April in Lexa se kar geklim en haar met ‘n klein mes gedreig het.

Van der Berg was vir 10 dae in polisie-aanhouding voordat hy op borg van R1 000 vrygelaat is. Hy het openhartig met Laevelder oor sy ontberinge gesels.

“Die tronk is alles wat jy jou verbeel het – net erger. ‘n Mens is afgesny van alles en almal. Net jou gedagtes hou jou geselskap en jy bevind jouself kort voor lank in ‘n baie donker plek,” het hy gesê.

Hy moes ‘n tronksel met mense wat hy as “regte skelms” beskryf, deel. “Dis die soort skelms wat jy in die flieks sien, saam met wie jy in daai selle sit. Die plek stink na urine. Party aangehoudenes doen nie die moeite om toilet toe te loop nie. Hulle doen hulle ding sommer net daar op die vloer waarop jy vanaand moet probeer slaap,” het hy vertel.

Sy prokureur, mnr. Riaan Bell, het deurgaans voet by stuk gehou dat die klagtes teen sy kliënt fiktief was. Bell het gesê dat dit ‘n poging van die teenkant was “om veld te probeer wen in die egskeidingstryd”.

“Egskeidings hoort in die egskeidingshof, nie hier in die strafhof nie,” het hy tydens Van der Berg se borgverhoor gesê. Van der Berg het herhaaldelik aan Laevelder gesê dat hy nie “n vroueslaner” is nie. Hy was verheug toe die klagtes teen hom teruggetrek is en het gesê dat hy onskuldig was.

“Dinge is nou reg – ek het niemand aangerand nie en die klagtes in verband met die beweerde oortreding van ‘n beskermingsbevel is nou ook van die baan,” het hy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button