Frieda Visagie ontlok vele trane asook glimlagte
Haar verhaal het die gaste diep geruk en geraak.
Die rou werklikheid van ‘n groot gesinstragedie soos deur die gasspreker by Barberton se jaarlikse KANSA-noenmaal, Frieda Visagie vertel, het Saterdag aan die hart van menige vrou gevat.
Frieda, eggenote van die voormalige rugbyspeler Rudie (Vleis) Visagie, het vertel deur watter hel die egpaar is na die skietdood van hulle dogter en van die pad wat sy en haar man moes stap om tot by die punt van ware bevryding te kom.

Twaalf jaar gelede, in die vroeë oggendure, het Frieda haar man wakker gemaak nadat sy ‘n geraas buite gehoor het.
Die egpaar het vermoed dat iemand besig was om ‘n voertuig te probeer steel.
Die skoot wat Vleis afgevuur het om die booswig te waarsku, het hul dogter, Marlé, noodlottig gewond.
Frieda het vertel hoe sy, na vele beproewinge en menslike emosies wat haar siel gebroke gelaat het, haar sak vol weemoed by God se voete gaan lê het en hoe dit haar redding was.
Nie net het haar verhaal die gaste diep geruk en diep geraak nie, maar haar engelstem het almal in vervoering gehad toe sy drie pragtige liedere gesing het.
Christelle Strauss, voorsitter van KANSA Barberton het Frieda in besonder bedank vir haar tyd en die deel van haar lewensverhaal.

Strauss het toe die NG Kerk, asook elke gasvrou wat die geleentheid moontlik gemaak het, vir hul onbaatsugtige en volgehoue ondersteuning bedank.
‘n Spesiale woord van dank is ook aan Ivy Smith, Strauss se regterhand tydens die noenmaal, oorgedra.
Goeie nuus wat sy meegedeel het, was dat KANSA-hoofkantoor, alhoewel hulle steeds Barberton se fondse administreer, van nou af alle insamelings vanuit hierdie gemeenskap vir plaaslike kankerpasiënte beskikbaar sal stel.
Die tema, Toeka tot Nou, het op die behandeling van kanker deur die eeue gefokus – van 3000VC toe kanker ‘n doodstraf was, tot vandag waar, indien dit vroeg genoeg gediagnoseer kan word, genesing binne die bereik van elke lyer is. Die klem is veral op gereelde ondersoeke gelê.
Na ‘n heerlike noenmaal is daar kersies aangesteek ter herinnering aan diegene wat die stryd teen kanker verloor het.
Indien jy as vrywilliger by KANSA Barberton betrokke wil raak, skakel Christelle Straus by 083-655-4289.
