Nie sommer maklik weer olifantuitdunning in die Krugerwildtuin nie
Een van die bestuursmetodes rondom stygende olifantgetalle in die NKW is om die beweging van olifante aan die natuur oor te laat. Olifante hou nie van mense nie. Hulle is bekommerd oor water, dan mense, dan kos en dan skaduwee.
SKUKUZA – Die uitdunning van olifante in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) is iets van die verlede.
Dr. Sam Ferreira, SANParke-wetenskaplike vir Groot Soogdier Ekologie, het dit onlangs tydens die bespreking van die park se olifantsbestuursplan bevestig.
Dit is onder meer te danke aan die natuur wat sy loop neem, met minder gespeende kalfies wat oorleef en ‘n meer oneweredige verspreiding van al die olifante in die NKW.
Volgens Ferreira is die bestuur van water die sleutel tot dié plan, wat vanaf 2013 tot 2022 geldig is.
Die olifantbevolking van die Kruger staan tans op 17 000. Daar word kommer uit talle oorde uitgespreek dat hierdie lading te hoog is. Kenners en besoekers is veral besorg oor skade aan die plantegroei.
“Olifante is habitat-ingenieurs wat as ‘n sleutelspesie met ‘n geïntegreerde benadering bestuur moet word,” het Ferreira aan Laevelder gesê. “Dit is nie die getalle wat bestuur moet word nie, maar die landskap.”
Die goeie nuus is egter dat die groeikoers in die olifantbevolking veel laer is as ooit vantevore. Toe uitdunning in 1994 beëindig is, het die olifantbevolking met 6,5 persent gegroei. Tans is die groeikoers nader aan 4,2 persent.
Ferreira skryf dit toe aan die benadering om die omgewing te bestuur.
“Olifante is vernuftige diere. Deur die maniere te benut hoe hulle op hul omgewing reageer, kan ons hul impak in die regte rigting stuur,” sê Ferreira.
Hierdie metodes kry olifante uit hul gemaksones en aan die beweeg. “Ek moet nog die olifant teëkom wat nie uit die wildtuin beweeg nie. Hulle is só voorspelbaar in hul onvoorspelbaarheid.”
Globale posisioneringstelsel- (GPS) halsbande wat aan 150 olifante oor ‘n aantal jare aangebring is, wys dat net een van hulle voltyds in die NKW gebly het.
“Hierdie geen-inmenging-beleid bepaal waarheen olifante in die wildtuin gaan asook wat hulle doen op die plekke waarheen hulle beweeg,” het Ferreira beklemtoon.
Die bestuursmetode sluit onder meer die nabootsing van natuurprosesse in. In 1994 was daar 8 000 olifante in die NKW.

Na 22 jaar sonder uitdunning is daar nou 17 000. Sonder die handhawing van die meer natuurlike bestuursprosesse sou die getal teen die 1994-groeikoers tans op 25 000 gestaan het.
Een van die bestuursmetodes is om die beweging van olifante aan die natuur oor te laat sodat die verspreiding meer oneweredig is.
“Olifante is gemaklike diere. Hulle sal aanbly waar alles vir hulle saamwerk. As daar dus ‘n watergat met genoeg weiding rondom is, gaan hulle nie skuif nie en ‘n groot, onmiddellike impak op die omgewing hê,” verduidelik Ferreira.
Sedert 1998 is boorgat-watergate toegemaak. Ferreira sê die strategie werk deurdat dit olifante dwing om hul gemaksones te verlaat.
Dit gee die omgewing kans om te herstel.
“Olifante hou nie van mense nie. Hulle sal hul bes doen om hulle te vermy. Hulle is eers bekommerd oor water, dan mense, dan kos, dan skaduwee.
“Deur van die noordelike heinings tussen ons en Mosambiek met oorgrensparke te verwyder en westelike grense tussen ons en van die natuurreservate weg te neem, kan hulle vryer rondloop om hul natuurlike instink te volg om van mense weg te kom,” beklemtoon Ferreira.
Hulle natuurlike weersin in bye kan ook die omgewing help en byeverbouing kan ‘n hulpbron wees waar olifante se impak hoog is.
Vanjaar se droogte het die omgewing in ‘n “landskap van vrees” verander, sê hy.
Met minder water in riviere en minder watergate, is dié diere werklik gedwing om hul verspreidingspatrone meer as vantevore te verander.
Met ‘n volgende opname van die verspreiding van olifante sal die mate van sukses van die benadering uitgewys kan word, meen Ferreira.
Troppe moet nou veel verder stap om water te soek. Kleiner olifante en oueres vrek makliker tydens hierdie langer staptogte. Daar word ook minder kalfies onder sulke omstandighede gebore.
‘n Olifantkoei gee sowat elke drie jaar geboorte. In meer natuurlike omstandighede word daar nou elke vierde of amper vyfde jaar eers geboorte gegee.
“Meer as vantevore, neem die natuur nou sy loop in die NKW en dit is goed vir die olifantbevolking en die omgewing,” het Ferreira afgesluit.