Katgriep-epidemie kan honde-eienaars tot R8000 uit die sak jaag
Mbombela se honde loop tans weer deur onder 'n vlaag lewensgevaarlike katgriep. Pasop vir besmette erwe, teeltewe wat nie ingespuit is nie en informele honde-smouse.
MBOMBELA – Plaaslike veeartse se hande is tans vol met honde wat lewensgevaarlike en hoogs aansteeklike katgriep het.
Dr. Christo Nortjé van die Van Wykstraat Dierehospitaal sê vier diere is onlangs by die praktyk daarmee geïdentifiseer en het aan die wrede siekte gevrek.
“Die honde ly verskriklik,” sê Nortjé.
Verlede jaar het die praktyk minstens 60 gevalle van dié siekte gesien. Ten minste 10 van hulle het dit nie oorleef nie, en ‘n verdere 20 is ‘n genadedood toegedien as gevolg van ‘n swak prognose of eienaars wat nie die behandeling kon bekostig nie.
“Inenting is die enigste oplossing teen katgriep,” sê Nortjé. “Daar is veral ‘n groter voorkoms van dié virus tussen September en Maart.”
Hy wys daarop dat mense dikwels ‘n wanindruk van hierdie siekte het. Die verwarring word veroorsaak omdat katte dit nie kry nie. “Dit is oorspronklik van katte na honde oorgedra, maar nou is die katspesie bestand daarteen.”
Afhangende van hoe vroeg die siekte geïdentifiseer word en die ouderdom van die diertjie, kan tussen 60% en 70% van die honde wel gered word. Dit verg intensiewe, geïsoleerde behandeling en kom teen ‘n hoë koste, enigiets vanaf R3 000 tot R8 000.
“Hierdie honde wat oorleef, ly ook erg en indien klein, bereik hulle nooit hul volle potensiaal nie,” sê Nortjé.
Die voorgeskrewe voorkomingsmetode sluit drie inentings op ses, nege en 12 weke in, met ‘n jaarlikse een daarna. Die inspuitings kos tussen R250 en R350.
“As die hond al sy inentings gehad het en ouer as drie jaar is, is die kans bitter skraal dat hy katgriep sal kry,” sê Nortjé.
Die virus is aggressief en tas die maagdermkanaal aan. Die eerste simptome is ‘n verlies aan eetlus. Dit word gevolg deur erge diarree met donker of bloederige stoelgang vyf tot 10 keer per dag, sowel as braking. “Hulle ontwater in ‘n oogwink,” verduidelik Nortjé. Die honde kan binne twee dae doodgaan.
Daar is ‘n paar slaggate rondom dié siekte waarin hondeliefhebbers kan trap. Veeartse moet gereeld hoor: “Maar hy was reeds ingeënt!”
Nortjé sê dit is geen waarborg dat indien jy jou hondjie koop en hoor die inspuitings klaar gedoen is, dat hy ál drie ontvang het nie. Indien die eerste inenting later as op ses weke gedoen word, is die risiko vir die vatbaarheid daarvan, soveel groter. Hy beveel aan dat nuwe eienaars op die inentingsboekie aandring en seker maak dat dit van ‘n geregistreerde veearts is. Vra ook wanneer die volgende inenting moet plaasvind.
Die virus besmet ook die omgewing en ‘n erf bly vir baie jare besmet. Katgriep neem omtrent sewe tot 10 dae na blootstelling daaraan, voor die diere siek word. As jy dus ‘n siek hondjie het, kyk waar hy sewe tot 10 dae gelede was. “Dit gee ‘n mens ‘n goeie idee hoe en waar die hondjie katgriep gekry het.
“Eienaars moenie dink dat wanneer ‘n staatsveearts die eenmalige hondsdolheidinspuiting gegee het, dat dit ook vir katgriep geld nie. Dit is twee verskillende inentings,” het hy afgesluit.
Die moets en moenies van katgriep
• Moenie hondjies sommer by elke Jan Rap en sy maat koop nie. Vra genoeg vrae sodat jy seker is dat daar geen geskiedenis van katgriep is nie.
• Vermy verkopers wat smouse is, want hulle diere het ‘n hoër risiko om dit te kry, weens die hoë omset.
• Teeltewe moet jaarliks geënt word om weerstand aan hulle babahondjies oor te dra, sodat hulle die eerste vier tot ses weke van hulle lewe beskerm is.
• Moenie dink die entstof werk oornag nie. Honde wat vandag geënt is, is nie sommer vandag of die volgende dag immuun nie. Katgriep se inkubasieperiode is sewe tot
10 dae. As hondjies vandag geënt word, maar reeds blootgestel is, gaan hulle waarskynlik steeds siek word.
• Indien ‘n babahondjie na ‘n besmette erf gebring word, moet die hondjie ten minste twee, maar verkieslik reeds drie inentings ontvang het en eers een week na die laaste inspuiting op die besmette erf kom.
• Die omgewing en mense moet ontsmet word indien daar blootstelling was; raadpleeg ‘n veearts aangesien nie alle skoonmaakmiddels doeltreffend teen dié virus is nie.
