Groei jou orgideë maklik en doeltreffend met hierdie wenke
Om 'n orgidee jou huis of tuin te laat versier, is veel makliker as wat jy dink as jy hierdie wenke volg.
ALKMAAR – ‘n Vrolike en ontspanne atmosfeer het by Afri Orchids geheers onder die valsdoringbome en mangobome Saterdag toe die jaarlikse Afri Orchids Oktober Ope Dag aangebied is.

Orgidee-aanhangers het van oral oor gestroom om te kyk na die ryk verskeidenheid van plante in Jolisa en Lourens Grobler se kweekhuise. ‘n Demonstrasie is deur Lourens Grobler gegee oor die kweek van orgideë.
Besoekers het ook heerlik gesels oor die ryke vonds wat die Grobler tydens ‘n uitstappietog op die Longtompas gemaak het om die Laeveld se raarste orgidee te vind.
Jolisa en Lourens het ook wenke soos in hulle pragboek Field Guide to the Orchids of Northern South Africa and Swaziland vervat (R280, uitgegee deur Umdaus Press, 012-991-2988) met die blomliefhebbers gedeel.
Hulle gee die volgende wenke vir orgideeliefhebbers:
• Moenie plante té nat maak nie. Sit eerder onder die kraan en laat water deur en oor die plant loop.
• Die beste plek in die Laeveld vir ‘n orgidee is in die mik van ‘n tuinboom wat oggendson kry.
• Plant elke drie jaar die plante oor.
Ook te koop was ‘n ryke aantal verskillende bromeliads en takbokvarings. Die duurste plant wat verkoop is was wel ‘n takbokvaring, Platycerium yeitchi en nie ‘n orgidee nie!
Die orgidee wat in die meeste mandjies huistoe gegaan het was die Dendrobium lindleyi.





