Swartmamba se dood ‘n raaisel vir haar vriend
Neels is die enigste persoon ter wêreld wat ‘n swartmamba kaalhand kon hanteer. Sy verhouding met die slang en hul vertroue in mekaar was enig in sy soort.

LYDENBURG – Neels Bothma se swartmamba, Swartbek, was nie net ‘n legende in haar eie reg nie, sy het ook in haar leeftyd van 16 jaar baie bygedra tot die kennis wat vandag oor swartmambas beskikbaar is.
Swartbek is op 22 Januarie in die huis, wat sy van haar geboorte af met Neels gedeel het, dood. Sy was die eerste van 13 eiers wat hy self laat uitbroei het, nadat die ma net buite Mbomela doodgery is. Die ander slange is vrygelaat, Swartbek het gebly. Dit is nie seker wat tot haar dood aanleiding gegee het nie.
‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak te bepaal. “Sy kon die oggend nie ‘n rot ingesluk kry nie en het dit die eerste keer opgebring. Die tweede rot het ook in haar keel vasgesteek. Ek het haar na die veearts geneem, maar daar was geen versperring wat opgespoor kon word nie. Die rot is toe na haar maag afgemasseer.”
Neels en Swartbek is huis toe en dinge het weer soos normaal verloop. “Sy het buite in die tuin rondgeseil, water gedrink en haar gewone gang gegaan. Sy het die aand van die tafel afgeseil vloer toe en onder die groenmambakas ingeseil waar sy al soveel keer vantevore gelê het. Ek het haar stert gevryf en gesê: ‘Cheers, sien jou môreogggend.”
Maar Swartbek was die volgende oggend dood. Neels glo dat hy deur haar baie inligting oor mambas bekom het wat nog nooit aangeteken kon word nie. “Ek het eerstehandse kennis deur haar opgedoen.” Swartbek het Neels in die jare wat sy by hom was, net een keer gebyt. “Ek was in die Ellisras-omgewing en dit was die dag was baie warm. Ek het haar kaalhande hanteer. Sy wou glad nie in haar kas nie en wou heeltyd wegkom. “Ek het haar aanhou terugdruk in die kas. Sy het my telkemale gewaarsku en selfs nadat ek alles geïgnoreer het, het sy my net met een tand gebyt.”
Neels is die enigste persoon ter wêreld wat ‘n swartmamba kaalhand kon hanteer. Sy verhouding met die slang en hul vertroue in mekaar was enig in sy soort. Neels gaan Swartbek, wat ‘n allemintige 3,5m lank was, ná die nadoodse ondersoek opstop. Hy is intussen klaar weer op soek na sy volgende maat. “Swartbek het die teendeel van die meeste mense se verwagtinge bewys… almal het gesê daai ding gaan jou doodmaak. Sy het almal verkeerd bewys.”
