Local newsNewsNews

Berusting vir gesin na tragiese voorval in Kruger

Die Janse van Rensburg-gesin het onlangs die toneel besoek waar hul seun verlede jaar in die Nasionale Krugerwildtuin aangeval is deur 'n hiëna.

PRETORIA – Vir die Janse van Rensburg-gesin van Pretoria het ‘n onlangse besoek aan die Nasionale Krugerwildtuin berusting gebring na die traumatiese gebeure wat hulle verlede jaar daar beleef het, en waarvan hulle die tyd en datum nooit sal vergeet nie – 04:37, 26 Junie 2016.

Erco Janse van Rensburg (regs) en sy pa voor die tragiese voorval by Krokodilbrugkamp.

Op daardie dag is hulle seun, Erco vroegoggend deur ‘n hiëna 30 meter ver uit die tent waarin hy geslaap het, gesleep.

LEES meer oor die gebeure

Sy oom, Johann Janse van Rensburg, het wakker geword van die lawaai. Hy het dadelik alarm gemaak en op die dier afgestorm. Die hiëna het die seun laat val en weggehardloop.Hy is dadelik per Securicon-ambulans na Mediclinic Nelspruit vervoer. Na ‘n operasie is hy per helikopter na Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem.

LEES oor die operasies wat hy moes ondergaan

Hy het onlangs by Mediclinic Nelspruit vir die dokters, drs. Jan-Louis Ras en Noeleen du Plessis wat na hom omgesien het, kom kuier.

Cashandra, Erco se ma, sê dat dit reg en goed was om weer nege maande na die voorval die oggend in die Krokodilbrugkamp te gaan herleef, maar sy is dankbaar dat dit nou klaar en verby is.

Cashandra Janse van Rensburg (tweede van regs) en Erco Janse van Rensburg (heel links agter) tydens hul onlangse besoek aan die Mediclinic Nelspruit.

Erco het as gevolg van die aanval sy linkeroog verloor. Verskeie operasies moes met die opbou van sy gesigweefsel en veral sy neus help. Daar is nog rekonstruksie wat rondom sy neus gedoen moet word. Sy oë sal ook weer geopereer moet word.

Desnieteenstaande is Erco, ‘n karatekampioen wat al ‘n goue medalje by die wêreldkampioenskappe in Portugal verower het, eersdaags op pad om aan die wêreldkampioenskappe in Las Vegas deel te neem.

Vir die dapper seun gaan dit ook nie goed genoeg wees om net ‘n kata te doen nie. “Hy wil beslis ook veg!” sê Cashandra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button