Horingkoeriers se aflewerings gefnuik
Twee renosterhorings versteek in 'n Mercedes se enjinkompartement, 10,5 kilogram renosterhoring verlate gelaat in 'n aluminiumtas op die Maputo Internasionale Lughawe en 'n krat gemerk "Kunswerke" met 18 horings wat in Kuala Lampur gekonfiskeer is - die afgelope twee weke is horingkoeriers se planne behoorlik deur owerhede in die wiele gery.

PIET RETIEF /MAPUTO – Drie spanne horingkoeriers se aflewerings is verlede week gefnuik – een aan die Swazi-grens deur SAPS en die SANDF, ‘n ander op Maputo Internasionale Lughawe deur die Mosambiekse Polisie en doeanebeamptes en die derde deur Maleise owerhede op die Kuala Lampur Lughawe.
Die twee horings wat naby ‘n grenspos by Swaziland gekonfiskeer was, is in ‘n Mercedes se enjinkompartement versteek. Die lughawehorings is in ‘n aluminiumtas by die aanmeldingspunt by die lughawe ontdek. In Kuala Lampur is 18 horings afkomend van die Maputo Internasionale Lughawe in ‘n krat gemerk “Kunswerke” gevind.
Hierdie drie gevalle wys daarop dat buurlande toenemend deurgangsroetes vir renosterhoringsmokkelaars word.
In twee gevalle het die oortreders probeer ontsnap. Die Mercedes-horingkoeriers is ingehardloop, maar die lughawekoerier het op vlug geslaan nadat die tas met die 10,5 kilogram renosterhoring ontdek is. Dié koerier is nog nie geidentifiseer nie.

Die vier beskuldigdes het reeds in die Mahamba Periodieke Hof verskyn en is tans in aanhouding. Hulle sal op 19 April weer op klagtes van onwettige besit van renosterhoring voorkom. Die beskuldigdes is mnre. Steven Stoltz (32), Clarence Ngomane (32), Keletso Makwakwa (24) en Bathabile Lubisi (32).

Volgens betroubare bronne was die beskuldigdes op pad om die twee horings iewers langs die pad aan horingsmokkelaars af te lewer en is hulle blykbaar net die koeriers daarvan.
Daar is geen stroperstoerusting soos byle of messe in die voertuig gevind nie.
Die motor en die horings is deur die polisie gekonfiskeer. Volgens lt. kol. Zwelibansi Sithabathaba, bevelvoerder van die SANW aan die Mosambiek- en Swazilandgrens, is daar nog nie vasgestel of die horings in die Nasionale Krugerwildtuin gestroop is nie.

Die Maputo Stadspolisie het Maandag bekend gemaak dat die renosterkoerier Saterdag probeer het om aan boord van ‘n vlug te gaan, maar het nie die bestemming van die passasier bekend gemaak nie.
Orlando Mudumane, woordvoerder van die Maputo Stadspolisie, het Maandag aan verslaggewers vermeld dat die passasier gevlug het toe hy besef het die tas se inhoud het aan die lig gekom.
‘n Week gelede is 18 renosterhorings op die Kuala Lumpur Lughawe op vlugte van Qatar Lugredery ontdek. Die horings was in ‘n krat gemerk “Kunswerke”. Die vlug het oorspronklik van Maputo Internasionale Lughawe opgestyg en via Doha in Kuala Lampur geland.
Lees meer oor hoe Mosambiek al ‘n tyd lank ‘n poort na die Ooste vir horingsmokkelaars is
