Hard newsNewsNews

Hartseer Boelie soek huis na plaasmoord

Die DBV Nelspruit het hulle ontferm oor 'n liefdevolle, goedversorgde hond wat 'n tuiste soek nadat sy oubaas in 'n plaasaanval vermoor is en sy lewensmaat eersdaags na Nederland vertrek.

MBOMBELA – Na die dood van sy baas, die vermoorde mnr. Peet van Es, moet die boelterriërreun, Moshje, ‘n nuwe tuiste kry.

Sy ander baas, wyle Van Es se lewensmaat, me. Arlene Prins is besig om Nederland toe te verhuis en Moshje kan nie saamgaan nie.

Die twee jaar oue gekastreerde boelie is Woensdagmiddag op die plaas, Mosely in die Barberton-distrik, waar Prins gewoon het, deur die DBV Nelspruit se inspekteur gaan haal en word tans by die organisasie se hondehokke in Mbombela gehuisves. Daar word ‘n goeie huis vir hom gesoek.

Daar is geen bepalings in Van Es se testament oor die toekoms van die diere gemaak nie. Boelterriërs word wel in Nederland toegelaat, maar Prins se familie daar is glo nie ten gunste daarvan dat die hond soontoe gaan nie. Hy kom nie goed met kleiner reuns oor die weg nie. By hom is Celia Sutton.

Die gesin se veghondkruising sal deur vriende ingeneem word, terwyl die twee Maltesers ook eersdaags by die DBV gehuisves sal word, totdat Prins se aansoek om hulle na Nederland te neem, goedge-keur word.

Die gesin moes verlede week erge trauma verwerk nadat Van Es op 8 April tydens ‘n plaasaanval vermoor is. Prins is self ook vasgebind en aangerand. Sy het later aangedui dat sy so gou as moontlik Nederland toe wou terugkeer.

Mpumalanga se polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi het by navraag gesê geen nuwe leidrade het in hul ondersoek aan die lig gekom nie. Die verdagtes is steeds voortvlugtig.

Volgens DBV-inspekteur, me. Marcelle Hoffmann, is dié vereniging sensitief vir die behoeftes van alle betrokkenes en bied hulle in sulke gevalle soms hulp aan.

Hoffmann het op versoek van ‘n vriendin van Prins gereageer en die hond gaan haal.

Prins het haar by haar bakkie kom groet, en toe die huis in verdwyn. “Haar dogter het vir ons die hond gaan haal. Prins was sterk toe sy hom moes groet. Ek kry haar so jammer. Sy het soveel verloor en is nou ook die dierbare outjie kwyt.

“Ek dink ook niemand kan hulle voorstel waardeur hierdie dier gaan nie. Al was hy en die ander honde nie direk in die aanval betrokke nie, voel hulle aan dat daar iets tragies met hul eienaars gebeur het. Hulle is nie onnosel nie.”

Marcelle Hoffman (bo) het verduidelik dat die goedversorgde boelterriër se nekhare die hele tyd regop gestaan het toe hulle hom met biltong en kaas by die bakkie wou inlok. Me. Celia Sutton, leerlinginspekteur by die DBV, het hom met sy aankoms gepaai en hy was die aand meer gerus in die speelhok.

Sy het daarop gewys dat enige toekomstige eienaar wat die tweejarige, “spekvet” hond wil aanneem, in ag moet neem dat hy nie goed met ander reuns oor die weg kom nie. Hy is wel gewoond aan en lief vir katte.

• Skakel die DBV by 013-753-3582 as jy Moshje wil aanneem.

LEES MEER oor ‘n plaasaanval in Desember in Witrivier

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button