Local newsNews

Koop nóú jou kaartjies vir die fees

Die groot gewag is verby: Kaartjieverkope vir die 14de Innibos Nasionale Kunstefees open vandag amptelik vir die publiek.

MBOMBELA – Kaartjies vir die feesterrein asook al die produksies kan nou gekoop word. Sandra Jacobs, bemarkingsbestuurder, sê feesgangers kan vanjaar, soos gewoonlik, verseker wees van produksies uit die boonste rakke en feesterreinvermaak vir elke smaak.

Die program is op Innibos se webtuiste beskikbaar, sodat feesgangers solank hul program van 5 tot 8 Julie kan beplan. Die program sal ook amptelik bekendgemaak word tydens die Minibos-makietie op 19 Mei. Dié afskop-opskop beloof om alle inwoners in die gees van die fees te kry met ‘n sokkie op die maat van Kurt Darren en Die Campbells as hoofgroep. Laasgenoemde se “Rooirokbokkie”-treffer het ook die kompetisie #Rooirokbokkie geïnspireer.

Minibos-Makietie is om die draai

Die #Rooirokbokkie sal op grond van geheime kriteria die aand van die Minibos-makietie gekies word. Die wenner kan ‘n R1 000-geskenkbewys van I’langa Mall asook ander opwindende pryse wen, so kry solank jou rooi uitrusting gereed. Dieselfde aand sal televisiepersoonlikheid Jan Braai die Laeveld se braaikoning aankondig, na afloop van ‘n braaikompetisie. Om solank in te skryf, kontak Alison Linde by alison@innibos.co.za.

Die jongklomp kan hulle solank begin regmaak vir rock-en-roll by die fees: Innibos het vandeesweek hierdie jaar se RockRumoer-finaliste aangekondig. Hulle is After Robot, Generasie Stasie, Having Cows, Kirkland en Matt Carstens. Hulle sal dit op die eerste dag van die fees, 5 Julie, op die kykNET NOU!-verhoog uitspook om te sien wie vanjaar se beste rockers is. Vanjaar se beoordelaars is besonders: hulle is Albert Frost, Francois van Coke en Neels van Jaarsveld.

Is jy dalk die #Rooirokbokkie?

Tuin, verlede jaar se wenners, is ook deel van die fees se rockprogram. Wees op die uitkyk vir hul eerste musiekvideo wat volgende week op kykNET vrygestel word. Jacobs het almal genooi om solank te begin beplan. “Bespreek vroeg om die beste kaartjies te kry, en teleurstelling te voorkom,” het sy afgesluit.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Besoek innibos.co.za vir die volledige feesprogram. Minibos vind op Hoërskool Bergvlam se gronde plaas. Toegang is gratis.

Bespreek jou Innibos kaartjies vandag

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button