Amanda Strydom positief ná val tydens Innibos
Amanda Strydom moes haar vertonings weens ’n heupbesering uitstel.
Die geliefde sangeres en aktrise, Amanda Strydom, bly positief nadat sy by ’n gastehuis in Mbombela geval en ’n ernstige heupbesering opgedoen het.
Sy ontvang tans behandeling in ’n hospitaal in Johannesburg.
LEES OOK: Irene Louise Van Wyk loop Innibos mis weens gesondheid
Strydom moes ongelukkig haar boekgesprek met Coenie de Villiers en Jak de Priester tydens die Toyota Innibos-fees misloop, asook haar produksie by die Vryfees uitstel.
Sy het haar aanhangers op Facebook gerusgestel dat sy goeie behandeling ontvang en al die beterskapwense opreg waardeer.
“Na afloop van ’n wonderlike Innibos-fees het die noodlot my onkant betrap. Ek het gestruikel en sleg geval. Ek en die wonderlike mense om my het dit stil gehou, want ons het nie geweet wat die skade is nie. Ek het my heup beseer en bevind my in die hospitaal waar hulle mooi na my kyk. Ek wens ek kan met elke vriend en die talle mense wat omgee, kommunikeer, maar dit is nie moontlik nie. Wees verseker dat ek julle goeie wense aanvoel en opreg waardeer. Wanneer ek kan, gesels ek weer. The show must and will go on! Lief vir julle,” het sy gesê.
LEES OOK: KYK: In die Stoel met Laevelder: Naranda Leeuwner
Haar vertoning, Tilly/Mathilda, ’n kabaret saam met die bekende Binnelanders-aktrise Je-Ani Swiegelaar, het groot gehore gelok.
Die produksie is deur baie feesgangers as een van Strydom se bestes tot op hede beskryf.