Local newsNewsNews

Jong aasvoël kies luilekker lewe bó vryheid

Elliot is 'n Kaapse aasvoël wat verkies het om terug te gaan na die rehabilitasiesentrum nadat hy die kans gehad het om vry te vlieg, veel anders as die ambisieuse Nommer 017 wat nadat hy gesond geword het Kersfees in die Nasionale Kruger Wildtuin gevier het.

HARTBEESPOORT – Elliot, ‘n Kaapse aasvoëlkuiken wat in Februarie vanjaar vanaf sy broeikrans in die Barkleypas naby die Oos-Kaapse dorpie Elliot geval het, was van meet af aan nie ‘n ambisieuse voël nie. Hy wou bloot sy litte losmaak en die nes tydelik verlaat.

Hy het hom egter misreken en het ontwater in ‘n mielieland beland. Carlien Marais het hom daar aangetref en dit aangemeld.

Kate Webster, koördineerder van die Stormberg Roofvoëlreddingsprogram naby Queenstown, het Elliot in haar spens gepamperlang.

“Hy het nog sy donsveertjies gehad,” sê Webster. “Oulik verby! Tot die huiskat het by hom gekuier. Die skaaphonde sit ook dikwels pootjie by met geveerde besoekers soos Elliot. Eintlik dink die honde hulle is aasvoëls!”

Elliot het ook ander vriende op die plaas gehad en het ‘n smakie vir hondekos gekry.

In Februarie vanjaar is Elliot as ‘n spesiale passasier deur DHL Koerierdienste na VulPro in die Hartbeespoortdam-omgewing geneem.

Die bewaringsorganisasie is bekend vir hulle aasvoëlnavorsing asook as rehabilitasie- en navorsingsentrum.
Verlede jaar het hulle onder meer 37 Kaapse aasvoëls ingeneem, waarvan agt vrygelaat is.

Vulpro rehabilitasiesentrum in Hartbeespoort.

SIEN hoe ‘n dapper jakkals aasvoëls in die Krugerwildtuin tart

“Hy is ‘n sagte, teer outjie wat mal is daaroor om vertroetel te word,” het sy aan Laevelder gesê.

In April het die groot dag vir Elliot aangebreek. Hy sou in die Nooitgedacht-natuurreservaat in die Magaliesberge vrygelaat word. “Hy was verwilderd en verward. Hy het nie sy nuwe vryheid verstaan nie,” verduidelik Wolter.

Elliot het ‘n draai gevlieg en toe teruggekom na die krat waarin hy vervoer is. Hy wou glad nie by die ander aansluit wat reeds vry gevlieg het nie.

Die boodskap was duidelik. Elliot verkies sy gemaksone by die reddingsentrum. Wolter moes hom terugneem na VulPro. Hy wou nie die luilekker lewe in die hokke prysgee nie. Hy het verseg om die wye vlaktes in te vaar, heeltemal anders as ‘n vorige spoggerige inwoner van VulPro, Nommer 017.

Die veelberese Nommer 017 (ook ‘n Kaapse aasvoël) het in 2014 met beserings van Thabazimbi ingekom.
Nadat hy gesond geword het en vrygelaat is, was daar geen keer aan hom nie. Hy het in 20 maande sewe Afrikalande, waaronder Angola en Zambië besoek. Kersfees 2016 het hy in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) kom kuier en sedertdien elke hoek en draai daarvan gefynkam.

Maar Elliot se blik is nie op sulke horisonne nie. Tans woon hy bo-op die toe hokke waarvandaan hy die wilde aasvoëls dophou wat die aasvoëlrestaurant besoek. “Elliot is beslis hier om te bly,” sê Wolter.

LEES meer oor die eko-kryger wat vir aasvoëls veg

• Tans word ‘n paar aasvoëls met opsporingstoestelle dopgehou wat in die Hoedspruit- en Phalaborwa-omgewing sowel as op die NKW-grense vrygelaat is en die vertes ingevlieg het.

Die bewegings van drie witrugaasvoëls met opsporingstoestelle in Timabavati word tans dopgehou.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button