Hard newsNewsNews

Deel 1: Bosslaghuise dra by tot toename in wurgstrikke

Navorsing wys daarop dat daar meer as 1,5 miljoen lokstrikke per jaar in Afrika gestel word. Die personeel van die Nasionale Kruger Wildtuin wys Laevelder se aanlyners hoe sommige van hierdie strikke lyk en werk in hierdie Deel 1 oor lokstrikke.

SKUKUZA – Die impak van lokstrikke en slagysters is onlangs weer onder die aandag gebring toe ‘n luiperd naby Phabeni-hek in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) met ‘n moontlike lokstrik om haar nek gesien is.

Na ‘n soektog van ‘n paar dae is sy met ‘n verdoofpyl geskiet en is daar seker gemaak dis ‘n ou wondletsel. ‘n Leeu van Punda Maria is ook dieselfde week van ‘n lokstrik om sy middel deur SANParke se veeartse verlos. ‘n Wildehond is gehelp met bek-wonde deur ‘n wildehondnavorser, Grant Beverley, nadat hy ‘n strik om die kop gekry het.

LEES hoe wildehonde al hoe meer bedreig word deur onder meer stroperstrikke

Ongelukkig is nie alle diere so gelukkig nie.

Bestaanstroping deur die stel van strikke, wippe en vangfuike is ‘n groot probleem in die wildtuin. Diere soos impalas en bosvarke word vir kos gevang om aan bosslaghuise verkoop te word. Hiervoor word tradisionele lokstrikke en slagysters gebruik.

Bruce Leslie by ‘n valslagyster waarmee groot diere vasgetrek kan word.

Met die uitbreiding van die aantal gemeenskappe rondom bewaringsareas, is die voorkoms van lokstrikke en slagysters ‘n toenemende bedreiging.

‘n Wip om groter diere in te vang.

Alhoewel die stroping van renosters en olifante die meeste aandag kry, is die moontlikheid groot dat vele ander diere ook uitwissing in die oë staar as gevolg van sulke onwettige jag.

Mnr. Bruce Leslie, hoof van die NKW-antistroping-spesiale operasionele span, het tydens die Rhino Tears/SANParke-ereveldwagters se mediatoer, ‘n paar lokstrikke gedemonstreer.

Bruce Leslie by ‘n vangvuik vir groter kruipdiere.

Hy het daarop gewys dat die stel daarvan dikwels die intreemisdaad vir renosterstropers is.

“Hierdie diewe kan nie na die naaste winkels stap vir kos nie, al het hulle ook geld. Hulle leef noodgedwonge van die land af en leer van jongs af hoe om strikke te stel.”

In 2014 het die bewaringsorganisasie, Lion Aid bevind dat 182 000 tot 365 000 ton jaarliks in Mosambiek wildlewe vir bosslaghuisvleis gestroop word. Die waarde hiervan beloop meer as R4,8 biljoen.

Die lyding van hierdie diere kan egter nie in rand en sent gemeet word nie.

LEES hoe ‘n renoster en ‘n kameelperd gehelp is om van ‘n lokstrik ontslae te raak

LEES VRYDAG MEER oor hoe lokstrikke in die Nasionale Kruger Wildtuin bekamp word.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button