Hard newsLocal newsNews

Vele op die spoor van Kruger 5 se spookleeu

Die wegloopleeu wat nie met 'n verdoofpyl geskiet kon word en in die Krugerwildtuin teruggeplaas kon word nie, is op verskeie uiteenlopende plekke "gesien." Vir veldwagters wat spore moes volg was elkeen van hierdie leidrade 'n doodloopstraat.

MALALANE – Die verlore vyfde leeu van die wegloperleeus wat verlede Maandag uit die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) geglip en in die rigting van die afrit na Mananga beweeg het, is vandeesweek op verskeie plekke tot so ver as ‘n dam naby die Swazilandse grens “gewaar”.

Volgens een inwoner van Komatipoort word “elke rietrot nou vir ‘n groot kat aangesien. Die leeu kan mos nie op soveel plekke gelyk wees nie.”

LEES meer oor die vyfde wegloopleeu

Vier van dié katte kon verdoof en opgepik word nadat hulle in ‘n beeskamp opgespoor is. Hulle is weer in die NKW, in die Krokodilbrugomgewing, vrygestel.

Die spannetjie het ingeloer nadat een van die Kruger 5 se wegloopleeus met ‘n verdoofpyl geskiet en terug na die wildtuin vervoer is.

Louw Steyn van die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad (MTPA), wat die soektog saam met veldwagters en veeartse van die NKW gelei het, sê dat verskeie van die waarskynlike leidrade deur veldwagters van die MTPA opgevolg is, maar dat elkeen op ‘n doodloopstraat uitgeloop het.

“Daar is geen beloning aan die opspoor van die leeu verbonde nie,” het hy beklemtoon.

Lesers van Laevelder het ook verskeie kere geskakel. Die leidrade is aan die MTPA deurgegee. Steyn, wat al 30 jaar met wegloopdiere in die Laeveld werk, sê hy glo dat die leeu self sy pad terug na die NKW gevind het.

Neels van Wyk, streeksveldwagter van die NKW, by een van die leeus onderweg na Krokodilbrug.

“Leeus is vernuftig. Hy sal dalk ‘n rivierloop of ‘n gaping in die heining vind.”

Steyn meen indien hy wel nog in die omgewing is, sou die weermag of boere hom gewaar het. Die enigste spore wat gerapporteer is, het telkens op die beweging van groot honde gedui en was nie leeuspore nie.

Tydens ‘n inligtingskonferensie van SANParke wat Woensdag oor die wegloopleeu gehou is, het veeartse en wetenskaplikes ook bevestig dat hulle glo dat die vyfde leeu op sy eie na die NKW teruggekeer het.

LEES hoe die soektog verloop het

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button