Die Innibos-fees bied vanjaar ‘n crawl vir ieder en ‘n elk
Innibos en sy crawls is onlosmaaklike maats, soos pannekoek en kaneelsuiker, en daar is vanjaar twee nuwe leefstyl-crawls om mee te maak buiten die reeds gewilde Kos-crawl.

MBOMBELA – Min feesgangers het al die voorreg gehad om die townshiplewe van nader te ervaar in dié land waar ons samelewing soms soos treinspore loop: tesame, maar parallel.
Spring saam met Innibos oor na die ander spoor tydens die Township-crawl op Vrydag, 7 Julie om 12:00.
Die bus vertrek van die NG Kerk Westergloed se parkeerterrein na KaNyamazane. Die eerste besoekpunt is by ‘n gesin wat in ‘n HOP-huis woon en ons gaan kuier-kuier luister hoe hulle hul drome waar laat word.

Daarna val crawlers weg aan chicken dust en pap in die dorp en word hulle deur die KaNyamazane Pantsula-dansers vermaak. Die volgende kuiertjie is by die ateljee van ‘n draadwerkkunstenaar, en die uitstappie eindig met ‘n vertoning deur Afrika-danse met kenmerkende, polsende en meevoerende ritmes.
Die ClemenGold Boerdery-toer op Saterdag, 8 Julie om 10:00 is na een van die voorste sitrusplase in die Laeveld en die ideale kans om die boer die kuns af te vra.
Megaboer Abraham van Rooyen en sy personeel gaan meer vertel oor die verskillende kultivars en die bestuurspraktyke wat gevolg word om jong bome so gou as moontlik in produksie te kry. Snoei en bemesting kom ook ter sprake.

Elke crawler kan twee kilogram se vrugte pluk om huis toe te neem, en die toer sluit met ‘n ClemenGold Gin-proe by die plaasdam af waar algmene vrae ook aan Abraham en sy span gevra kan word.
Let op dat die busse na dié plaas van Nelspruit Hoërskool se Kultuursentrum (ATKV-Boeke-oase) vertrek.
As jy hierdie een misloop, is daar darem nog die ClemenGold Gin-proe op Donderdag, 6 Julie om 11:00 en 14:00 by die ATKV-Boeke-oase tesame met ‘n optrede deur Laeveld-gunstelinge Natascha C en Henry-John Williams.
Oudergewoonte is die Innibos Kos-crawl weer vanjaar by Nelspruit Hoërskool op Vrydag, 7 Julie. Daar is drie crawls: om 09:00, 11:00 en 13:00.

Jakkie Louw is nie net bekend as sanger nie, maar ook as kosmaker van formaat. Hy demonstreer van die beproefde geregte uit sy kookboek Bakkie Louw se Jak en Brou. Die tweede besoekpunt is Huis Hermann Davin waar Weskus-kos aan die beurt kom onder die vaardige hand van Leroux van Vuuren, baas van die Lekka by die See-restaurant in Langebaan.
Die musiekgroep World@South sorg vir ‘n blaaskans tussen die proe, en daarna is dit sjef Mynhardt Joubert om ‘n varkribbetjie met Van Loveren se vyf jaar oue whisky, asook ‘n donker kunsbier-float te maak.

Soettande kan dan regskuif vir twee Koekedoor-wenners, Corli Botha en Marli Visser se wenresepte. Nelspruiter Tobias Kruger agter die klavier rond die Kos-crawl af.



