Nuwe organisasie ontferm hom oor probleemdiere
Danksy 'n nuwe Facebook-groep is daar vir stedelike wilde diere in die Laeveld beter vooruitsigte op pad.

MBOMBELA – Die groep, Friends of Wildlife Management, is op die been gebring nadat Wessa Nelspruit hande met werknemers van die MTPA se wildlewebestuurspan gevat het. Dit is ‘n niewinsgewende organisasie wat beoog om die welsyn van wilde diere te bevorder.
Spanleier van die MTPA, Chris Hobkirk het aan Laevelder gesê dat die doel van die organisasie is om ‘n kanaal te skep waardeur bewusmaking gedoen kan word oor maniere wat inwoners kan help om die behoeftes van wilde diere, ook in stedelike omgewings, te respekteer.

“In die wintertyd is daar al hoe meer diere wat kos kom soek in stedelike gebiede.
“Veral in bosryke omgewings soos Mbombela word hulle blootgestel aan baie gevare soos voertuie.”
Hobkirk moes Maandagaand ‘n apie in Enos Mabuzalaan uitsit nadat dit deur ‘n voertuig getref is.
“Ek wil ook namens die groep ‘n beroep op inwoners maak om, soos in sulke gevalle, ons by ons noodnommer te skakel sodat ons koppe bymekaar kan sit eerder as om net weg te ry en ‘n wilde dier wat ly aan sy eie lot oor te laat,” sê Hobkirk.
Hy het die persoon wat hulle geskakel en by die apie gewag het, geprys en gesê dat Mbombela meer sulke diereliefhebbers nodig het wat verder as hulle eie behoeftes dink.

Hierdie winterseisoen, verduidelik die spanleier, sal daar veral weer las van grysapies en ystervarkies kan wees.
“Die kosvoorraad in die veld is min en die diere kom nader om hul eie vorm van kitskos in die buurte te kry in tuine en naby aan huise. Dit maak hulle baie kwesbaar, maar stel ook inwoners wat wil help in gevaar.”
Hy waarsku dat daar veral van probleemdiere soos bosvarke en slange weggebly moet word voordat beserings opgedoen word. Hobkirk raai inwoners aan om ‘n afstand te behou en hulle dadelik te skakel voordat die probleemdier nog ‘n erger “probleem” word.
“Hou die dier dop en bly asseblief naby hom totdat ons kom sodat ons hom maklik kan vind. Los die moeilike werk, soos die vang van die dier, vir die professionele ouens soos ons,” versoek Hobkirk.

Daar vind al hoe meer ontwikkeling in gebiede rondom Mbombela plaas waar wilde diere voorheen gewoon het maar nou deur geboue en paaie ingeneem word.
Hobkirk waarsku dat dit ‘n probleem is wat toenemende wilde diere se lewens en voedselvoorraad gaan bedreig.
“Ons kan verwag dat die aantal diere wat hierdeur geraak word, gaan ontplof. Al hoe meer diere, veral vanaf Westend SPAR tot by Steiltes SPAR word gedwing om oor die pad te skarrel om kos in die koppies te gaan soek. Dit is ‘n baie kommerwekkende situasie.”
Hy het hom sterk uitgespreek teen inwoners wat apies voer aangesien dit die situasie eerder vererger as verbeter.
“Op die ou einde is dit die apies wat die prys vir mense se onnadenkendheid moet betaal.”


