Deel só feesvreugde met ander
Dis 2017 en Innibos is lankal nie meer tot Mbombela beperk nie. Hoe so? Dis te danke aan sosiale media!

Verskeie feesgangers deel hul Innibos-herinneringe aanlyn met vriende regoor die wêreld. Maak seker dat jy ook deel is van die #Innibos2017 gesprek deur die regte hutsmerke te gebruik wanneer jy foto’s aanlyn plaas.

Die fees het twee amptelike hutsmerke: #Innibos2017 en #stappieverder. Muskiet het oor die jare met bykomende hutsmerke vorendag gekom.

• As jy hier fees vier, noem ons jou ‘n #bosganger. Laevelders wat saamkuier, heet #bosbewoners.

• #Bosmôl is die versameling stalletjies waar feesgangers lekkernye, klerasie en aandenkings kan koop. Daar is iets van alles – van suikersoet spookasem tot deftige juwele.

• #Boskrôl – Gesoute Innibossers kruip stadig deur die feesstalletjies. Hulle proe, ruik, hoor, sien en ervaar alles met oorgawe. Moenie vergeet om jou #boskrôl-foto’s met ons te deel nie!

• #Bosvoos is hoe jy voel na ‘n behoorlike #boskrôl.

• #Boskiekies is wat ons al die foto’s wat jy van jou #bospelle (die woord spreek vanself) neem, noem.

Hier word natuurlik selfies geneem dat dit bars. ‘n #Selfinni is ‘n selfie wat by Innibos geneem is. Neem jou gunsteling-oomblike af en merk ons in jou plasings: @innibosfees en @lowveldmedia. Sien jou binnekort aanlyn.
