Sandra sorg weer vrou-alleen vir ‘n verstommende teater ervaring
Die ritmiese suising van die see en branders wat breek, plaas die gehoor reeds vooraf in 'n bepaalde milieu.

In jou gedagtes stap jy iewers op ‘n wit strand. Dan kom die blonde vrou grasieus nadergestap. Sy tel klippe op en sit dit een-een in haar jas se sakke.
Dan trek sy haar skoene uit en plaas dit op die seesand neer. Jy weet wat gaan gebeur. Is dit dan nie hoe Virginia Woolf en Ingrid Jonker aan hulle einde gekom het nie? Maar dit gebeur gelukkig nie en die vrou begin met Johannes praat. “Nog nie nou nie, Johannes,” koop sy vir haarself tyd uit om haar lewensreis met mense te deel.
In Moedertaal, Sandra Prinsloo se eenvrouvertoning, neem sy die gehoor saam op ‘n intense biografiese vertelling. Nellie kyk terug op haar lewe en vertel die aangrypende verhaal van haar reis saam met haar man, Johannes Wolmarans, en hul seuntjie Roelf. Die woordryke teks, geskryf deur die veelbekroonde Fiësta-wenner, Nico Scheepers is vol deernis en liefde met selfs ‘n goeie skeut humor.

Sandra slaag uitstekend daarin om haar gehoor weg te voer na Melkbosstrand vanwaar sy haar verhaal vertel. Dis ‘n reis vol emosies: die skugterheid, passie en opwinding van die jong liefde, die opgewondenheid en vreugde van swangerskap. Maar daar is ook teleurstelling, smart, pyn en verbittering. Elkeen van dié emosies word eerlik en geloofwaardig uitgebeeld. Uiteindelik is dit die liefde wat die rivier van tyd vorm wat reg deur die verhaal vloei en wat die gehoor met empatie laat luister.
Sandra het reeds voorheen in eenvrou-vertonings soos Die naaijmasjien en Oskar en die pienk tannie getoon dat sy die vermoë het om die gehoor vir die volle duur van die vertoning vrou-alleen letterlik in haar hande te hou. Ook in Moedertaal neem sy hulle saam deur elkeen van die emosies en laat hulle nuuskierig luister tot aan die einde.

Die vertelling is intiem en nadat Nellie haar laaste woorde gespreek het en die verhoog donker word, bly die gehoor roerloos sit. Te bang om die roerende verhaal wat magies hier onder die verhoogligte ontvou het, te beëindig.
Wanneer die applous losbars, staan almal op hulle voete om hierdie doyenne van die Suid-Afrikaanse teater toe te juig. Sandra maak teater lewendig en toeganklik.
Moedertaal is in Nelspruit Laerskool se skoolsaal vandag om 13:00 te sien. Tydsduur: 65 minute. Prys: R127.

