Jou beste vriend wag by Home 4 paws
Home 4 Paws is tans die enigste skuiling waar hierdie diere ‘n tydelike tuiste kan vind nadat hulle òf weggegooi òf deur hulle vorige eienaars agtergelaat is.

LYDENBURG – Home 4 Paws het weer verskeie hondjies wat dringend huise soek.
Die skuiling sorg vir meer as 25 verwaarloosde en weggooihonde. Die eienaar van die hondeskuiling, Cathy Schutte, neem dié diere op eie onkoste in en sorg dat elkeen van hulle geënt, ontwurm en reggemaak word voordat hulle vir aanneming beskikbaar gestel word.
Schutte het verskeie klein tot mediumgrootte honde en twee klein babahondjies wat gereed is om deur ‘n liefdevolle familie aangeneem te word.
Die meeste van die honde by Home 4 Paws is gewoond aan ander diere en kom goed met kinders oor die weg. Om een van dié honde ‘n liefdevolle huis aan te bied, kan Schutte by 082-462-5754 geskakel word.











