Editor's choiceLocal newsNewsNews

Nóg ‘n vertoning gekanselleer

Intussen probeer Soné Höll en die eienaars van Oppiplottepark om te red wat te redde is. “Ons is besig om te reël sodat die vertoning wel plaasvind.

LYDENBURG – ‘n Derde vertoning is slegs enkele dae voor die tyd deur dieselfde organiseerder gekanselleer.
Die immergewilde Jonothan van Radio Raps was veronderstel om Saterdag by Oppiplottepark op te tree, maar dié vertoning is gister (Woensdag) gekanselleer.

Inwoners is ontstoke oor die onlangse kansellasie juis omdat dit die derde optrede is wat deur Dirk Boshoff gereël is. Die voriges van ADAM en Andries Vermeulen het ook nooit gerealiseer nie – en dit ná inwoners reeds kaartjies aangekoop het.

Vermeulen sou op 22 Julie by Oppiplottepark opgetree het. Daardie aand is mense wat reeds in die saal was, meegedeel dat die optrede nie gaan plaasvind nie. ADAM sou op 3 Junie opgetree het, maar helaas, het hulle ook kop uit getrek.

Boshoff het op Facebook gesê: “Daar word altyd gesê daar gaan niks aan in ons dorp nie. Ek het probeer om dit te verander, om vertonings te reël en iets na Lydenburg toe te bring. Dit het tot gevolg gehad dat ek die volgende vertonings gereel het: die ADAM-groep met Irene-Louise van Wyk, Andries Vermeulen en Radio Raps.

“Oppiplotte Park het vir ons die perseel aangebied en alles is daar gereël, maar het niks met die vertonings te doen gehad nie. Hengel en Kuns is net die besigheid wat bereid was om vir my die kaartjies te verkoop. Lydenburg Gebeure die enigste een wat al die vertonings gereël het en ek moes al my persoonlike gegewens deur gee aan die kunstenaars vir kontrakopstel.”

Boshoff meen dat ADAM agt dae voor die tyd gekanselleer het en dat kaartjieverkope vir Vermeulen en Radio Raps nie genoeg was nie.

Die koerant het egter met Zinta Kymdell, bestuurder van Radio Raps in kontak getree. Volgens haar is daar reeds glo 450 kaartjies vir die optrede verkoop. “Ons het Boshoff ook nie ‘n 50 persent-deposito gevra nie, maar slegs R5 000. Die balans moes op 18 Augustus betaal word. Boshoff het aan ons gesê dat hy die geld sou leen om dit te betaal. Ons het gevra waar die geld van die kaartjie verkope dan is.”

Indien 450 kaartjies reeds verkoop is teen die minimum bedrag van R140 elk, kom dit reeds te staan op R63 000.00.
Petro van Aswegen het 13 kaartjies vir dié vertoning gekoop. “Boshoff het gesê dat hy die geld gaan terugbetaal, maar dat dit tyd gaan neem.”

Kymdell het gesê dat hulle baie jammer is oor die kansellasie. “Ons sal op ‘n ander geleentheid weer Lydenburg besoek en dit op ‘n ander manier doen.”

Die koerant het Boshoff geskakel om uit te vind of mense vergoed gaan word vir die kaartjies wat reeds verkoop is. Hy het aan Steelburger/Lydenburg Nuus telefonies gesê dat mense mettertyd vergoed sal word, aangesien hy ook uitgawes aangegaan het.

Intussen probeer Soné  Höll en die eienaars van Oppiplottepark om te red wat te redde is. “Ons is besig om te reël sodat die vertoning wel plaasvind. Dit lyk baie positief. Ons het Boshoff heeltemal uitgeskakel. Lydenburg sal bes moontlik nog Saterdag ‘n vertoning hê,” sê Höll.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button