Radio gaan Raps met behulp van skenkings
Piet van Zyl van Tranquility Landscapes in Nelspruit het R13 000.00 se kaartjies gekoop en dit gratis aangebied aan enige iemand wat die optrede wil sien.

LYDENBURG – Die vertoning van Radio Raps gaan voort en dít as gevolg van ‘n gemeenskap wat saamstaan en weldoeners se skenkings.
Die optrede van Radio Raps was gister (Woensdag) gekanselleer. Volgens die voormalige organiseerder, Dirk Boshoff, was dit as gevolg van swak kaartjie verkope.
Die koerant het egter met Zinta Kymdell, bestuurder van Radio Raps in kontak getree. Volgens haar is daar reeds glo 450 kaartjies vir die optrede verkoop. “Ons het Boshoff ook nie ‘n 50 persent-deposito gevra nie, maar slegs R5 000. Die balans moes op 18 Augustus betaal word. Boshoff het aan ons gesê dat hy die geld sou leen om dit te betaal. Ons het gevra waar die geld van die kaartjie verkope dan is.”
Intussen het die dorp, Oppiplottepark en verskeie weldoeners saamgestaan en die kostes vir die optrede ingesamel. Piet van Zyl van Tranquility Landscapes in Nelspruit het R13 000.00 se kaartjies gekoop en dit gratis aangebied aan enige iemand wat die optrede wil sien.
“Ek het vir ‘n jaar in Lydenburg gebly en my vrou is oorspronklik vandaar. Ek het die hele storie gevolg op Facebook en besluit om die bydrae te maak.”
