Editor's choiceLocal newsNewsNews

Viervoetige vriende maak op jou hulp staat

Die hond wat jy drie dae gelede langs die pad afgelaai het, gaan as jy terugkom, jou met 'n swaaiende stert begroet.

LYDENBURG – ‘n Yslike 76 honde is in drie maande deur Home 4 Paws ingeneem en slegs sewe is in die tydperk aangeneem.

Dit is die skokkende statistiek wat Cathy Schutte, eienaar van dié skuiling aan Steelburger/Lydenburg Nuus bekend gemaak het. Schutte het sedert 2015 tot vandag toe 678 honde by Home 4 Paws ingeneem – die meeste mishandel en aan hulle lot oorgelaat.

“Bykans al my honde is van hierdie dorp. Ek moes al talle honde van kant maak, en dié syfer is nie eens bygereken nie. Van die honde was óf te ver heen óf net te siek en mishandel om hulle te kon help.”

Volgens Schutte het die skuiling nog altyd gepoog om elke hond ‘n regverdige kans op ‘n aanneemhuis te gun. “Deesdae word dit net te moeilik. Ek kan nie honde vir drie jaar in ‘n hok laat staan nie. Dis nie regverdig nie. Dis nie net gemengde rasse nie. Ek het talle opregte rasse wat ook by die skuiling opeindig.”

Volgehoue ondersteuning van die gemeenskap is min en Schutte moet gereeld vir hondekos bedel. “Daar is dae wat ek net wil oppak en alles stop, veral wanneer die verwaarlosing en agterlaat net te veel word, maar wie gaan diere help wat nie eens vir hulself kan praat nie? Die hond wat jy drie dae gelede langs die pad afgelaai het, gaan as jy terugkom, jou met ‘n swaaiende stert begroet. Dis ongelukkig hoe lojaal ‘n hond is. Hulle verstaan nie as ‘n eienaar nie terugkeer nie en dit is die hartseerste van alles.”

Schutte sê dat sy oneindig dankbaar is vir diegene wat gereeld kos skenk. “Ongelukkig hou diere nie op met eet nie en ek moet maar op ‘n gereelde basis vra vir kos.”

Sommige mense het haar al berispe omdat sy die honde van die skuiling laat aanneem teen R800 per hond. “Wat mense nie verstaan nie is dat dit alle inentings, ontwurming en sterilisasie insluit. Met ander woorde, jou teef gaan nie oor ‘n maand op hitte wees en kleintjies kry nie en jou reun sal nie uit jou erf glip om na ‘n teef te soek nie. Op hierdie stadium kan ek nie meer diere inneem nie. My hokke is oorvol. Ek het net soveel spasie vir honde by die skuiling.”

Die skuiling verwelkom tans enige donasies in die vorm van kos, veeartsenykostes en boumateriaal vir die instandhouding van die hokke. Enige donasies of skenkings sal waardeer word. Home 4 Paws is ‘n organisasie sonder winsbejag. Vir meer inligting skakel Schutte by 082-462-5754.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button