OPVOLG: Pa van drie se vordering “‘n wonderwerk”
Die pa van drie wat verlede Sondag lewensbedreigende beserings opgedoen het toe hy in die Longtompas met sy motorfiets geval het, is besig om dokters en sy gesin se wildste verwagtinge te oortref met sy wonderbaarlike herstel.

MBOMBELA –
Hoewel daar nog ‘n lang pad vir die 47-jarige avonturier, Adam Willemse voorlê, is sy vrou Landé dit eens dat voortdurende gebede die afgelope naweek ‘n wonderwerk laat gebeur het. Adam het verlede Sondag ernstige beserings aan sy gesig en kop opgedoen toe hy op pad huis toe vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor en geval het.
Die presiese oorsaak van die ongeluk gaan dalk binnekort bekend wees nadat Adam, wat tot onlangs toe nog bewusteloos was, se toestand so verbeter het dat hy begin praat, sien en eet het.
LEES OOK: Family and friends praying for full recovery of local motorcyclist
“Verlede week kon hy glad nie praat nie, en moes met behulp van ‘n ventilator asemhaal. Teen Saterdag het hy egter self begin asemhaal en teen Sondag het sy sig in sy linkeroog begin terugkom. Wonder bo wonder was hy Maandagoggend nog ‘n stappie nader aan herstel toe sy spraak gedeeltelik begin terugkom en hy selfs klein happies jogurt begin eet het,” vertel Landé.
Boodskappe van bemoediging stroom sedert sy ongeluk in en Landé sê sy weet nie hoe hulle sonder die ondersteuning deur hierdie beproewing sou kom nie.
LEES OOK: Adam Willemse wakes up six days after motorcycle accident
“Ek is stomgeslaan. My hoop in die mensdom is weer herstel,” vertel sy en voeg by dat selfs die plaaswerkers hande gevat en om sy bed vir hom gebid het.
Adam se werkgewer Land Rover Nelspruit, sy neef Hilton van Heerden en sy broer Francois, is maar net ‘n paar mense wat uitgesonder kan word.
“Ons vat dit dag vir dag, en hoewel sy herstel merkwaardig is en hy uit die gervaarsone is, probeer ons stuk vir stuk om ons lewe weer agtermekaar te kry.”
Die egpaar se agtjarige tweeling Aila en Alex sukkel om die ongeluk te verwerk. “Hulle het gesien hoe hulle pa daar lê, en vir hulle lê daar ‘n lang, traumatiese pad voor,” sê sy.
LEES OOK: Hope for Desmond Molenaar after attack at Uitkyk-home





