ADAM WILLEMSE OPVOLG: Nuwe inligting bring ‘n interessante nadraai
"Die onbekende het ons mal gemaak, maar nou dat die oorsaak dalk bekend kan raak en die skuldige(s) aan die pen kan ry, is 'n sin van verligting tasbaar."
MBOMBELA – Die Willemse-familie se hoop is opnuut versterk nou dat daar dalk ‘n wending in die ongeluk se ondersoek is.
OPVOLG: Adam Willemse uit intensief ontslaan
Adam Willemse, ‘n gewilde plaaslike avonturier het vroeër die maand lewensbedreigende beserings tydens ‘n ongeluk op die Longtompas opgedoen. Hy was op sy motorfiets op pad huis toe, toe die ongeluk plaasgevind het.
Nou het drie moontlike ooggetuies onlangs na vore gekom wat dalk kan beteken dat die oorsaak van die ongeluk binnekort aan die familie bekend gaan wees.
Volgens Adam se vrou Landé, beweer die ooggetuies wat instandhoudingswerk naby die toneel gedoen het, dat ‘n wit voertuig in die ongeluk betrokke was en versuim het om te stop.
Meer inligting is aan Laevelder bekend, maar kan nie bekendgemaak word nie weens ‘n ondersoek wat tans aan die gang is. Landé sê dat dié wending ‘n geweldige verskil in hulle gemoed maak. “Die onbekende het ons mal gemaak, maar nou dat die oorsaak dalk bekend kan raak en die skuldige(s) aan die pen kan ry, is ‘n sin van verligting tasbaar,” vertel sy.
Adam, wat erge beserings aan sy gesig opgedoen het, se vordering verstom steeds. Hy is die afgelope naweek na M Care oorgeplaas waar terapeute nou onverpoosd gaan poog om onder meer sy spraak en sig te verbeter of selfs te herstel.
“Dit is nog ‘n lang pad na herstel, maar ons is stomgeslaan met hoe goed hy vorder,” sê sy. “Hoewel hy met tye nog baie deurmekaar is, het sy spraak drasties verbeter,” sê Landé en voeg by dat sy sig in sy linkeroog byna heeltemal herstel het, maar dat dokters eers later vandeesweek sal kan bepaal of sy regteroog ooit weer gesond sal word.
Family and friends praying for full recovery of local motorcyclist
