Editor's choiceNewsNews

Man word 150 meter ver na dood geslinger

Omstanders het ook vertel dat hulle gehoor het hoe die motorfiets in die straat afgery gekom het. “Daar was ‘n groot slag en toe is dit stil. Ons het vermoed daar het ‘n ongeluk plaasgevind en het dadelik ondersoek gaan instel.”

LYDENBURG – ‘n Gruongeluk het Saterdag 22:30 voor The Boulders-kompleks se ingang plaasgevind.

Kobus Delport (50) het glo vanaf Kerkstraat met sy rooi Kawasaki-motorfiets in Voortrekkerstraat gery toe hy reg voor dié ingang met ‘n Ford Everest gebots het.

Delport se motorfiets het eers die regteragterwiel van die Everest getref voor sy liggaam ongeveer 150 meter verder teen een van die groot rotse naby die ingang geslinger is. Die slag het dié 200-kilogram-rots ongeveer ‘n halwe meter geskuif.

Jo-Ane Venter (28), bestuurder van die Everest, is van Witbank en het vir die naweek familie in Lydenburg besoek. Sy het nie enige beserings opgedoen nie.

Paramedici van Swiftambulansdienste, Rapid Response en HBK Insleepdienste was binne minute op die toneel. Willem Jordaan van Swift het Delport op die toneel dood verklaar. “Daar was niks wat ons vir hom kon doen nie.”

Kariena Roos van HBK het op die toneel aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel dat sy ook byna in die Everest vasgery het weens die swak beligting op dié pad.

Omstanders het ook vertel dat hulle gehoor het hoe die motorfiets in die straat afgery gekom het. “Daar was ‘n groot slag en toe is dit stil. Ons het vermoed daar het ‘n ongeluk plaasgevind en het dadelik ondersoek gaan instel.”

Die koerant het videomateriaal van die ongeluk ontvang. Daar kan gesien word hoe die Everest die ingang van The Boulders verlaat en begin regs draai in Voortrekkerstraat. Ongeveer ‘n sekonde later het Delport die voertuig getref en is hy tot by die rots verby die ingang geslinger.

Die pad is afgesper tot die ongelukstoneel opgeruim en Delport se liggaam deur lede van die Mpumalanga patologiese afdeling verwyder is.

Delport het na wat verneem word as mynkaptein op Mototolo-myn buite die dorp gewerk. Hy het slegs ‘n paar maande in Lydenburg gebly voor die ongeluk gebeur het. Sy vrou en seun was ten tyde van die ongeluk in Rustenburg waar hy oorspronklik vandaan kom. Hulle sou glo aan die einde van die jaar by hom in Lydenburg kom woon het.

Volgens Lydenburg SAPD se woordvoerder, kapt. Alfred Moela is Venter aangekla van roekelose en nalatige bestuur. “Dit is standaardprosedure. Sy sal ook aangekla word van manslag. Die ondersoek na die ongeluk duur voort en na gelang van die uitslag sal daar klaring wees oor of sy voor die hof gedaag sal word vir die aanklagtes teen haar.”

Moela het motoriste gemaan om nie net na hulle eie veiligheid om te sien nie, maar ook na dié van ander padgebruikers. “Dit was ‘n onnodige dood wat vermy kon wees.”

Deon Broekman van Rapid Response het bevestig dat die blindehoogte en swak sig – veral snags op dié spesifieke pad – waarskynlik bygedra het tot die ongeluk.

Steelburger/Lydenburg Nuus het met Ryno Delport gepraat oor sy broer se dood. Ryno bly in Mbombela en vertel dat Kobus ‘n besondere mens was. “Hy het sy lewe absoluut voluit gelewe. Hy was gewoonlik die grootste man in ‘n vertrek, maar met die kleinste hart. Hy was ‘n stil mens, ‘n besondere en buitengewone mens. Hy het passievol gelewe en was lief vir motorfiets ry. Hy het ‘n groot hart gehad.

Christelle, Kobus se vrou en hulle seun Zak het in Rustenburg agtergebly na Kobus Lydenburg toe verhuis het. Zak is ‘n kranige rugbyspeler en hulle het besluit dat dit vir hom die beste sal wees om sy matriekjaar in Rustenburg te voltooi voor hulle by Kobus sou aansluit.”

Ryno meen dat Kobus ‘n groot leemte gaan laat. “Ons bedank julle (Steelburger/ Lydenburg Nuus) ook dat julle ons gekontak het om oor Kobus te kon praat.”

Delport laat sy vrou, seun en verskeie vriende en familie nagter. ‘n Roudiens word Saterdag in Rustenburg gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button