Local newsNews

Plaaslike besighede word uitgedaag vir fondsinsameling vir Mienke

Mienke Mulder is dalk een van die dae op pad na Indië.

MBOMBELA –  Hierdie kleinding se ouers, Verna en Ryno, beoog om haar na dié Asiatiese land te stuur vir intensiewe stamselterapie.

Die Mulders het intussen na die Goudstad verhuis maar hulle plek in Laevelders se harte is nog lank nie koud nie. ‘n Plaaslike onderneming het besluit om aan dié gesin terug te gee. Precision Towing Services Nelspruit se eienaar, René Rushmer, wil plaaslike besighede uitdaag om ook ‘n bydrae tot die R600 000 te maak wat Mienke nodig het om na Indië te gaan.

“Daar is so baie besighede in die area en as elkeen net ‘n klein bietjie gee, is ek seker gaan ons vinnig by die bedrag uitkom,” het Rushmer gesê.

Sy is self ‘n ma en Mienke se storie het haar diep geraak. Die besigheid het ‘n bedrag van R2 000 aan die gesin geskenk. Vir Ryno is hierdie inisiatief, sowel as al die ander skenkings wat hulle ontvang het, ‘n absolute seën.

Volgens Ryno het Mienke se neuroloog dié terapie voorgestel.

“Dit is nie iets wat ons moet doen nie, maar iets wat ons graag vir haar wil doen,”

vertel Ryno. Hierdie terapie gaan R600 000 kos en sluit ongeveer ses sessies elke ses maande in.

LEES OOK: Forgiveness is important says Mienke’s dad, Ryno

Hy verduidelik dat hulle stamselle van Mienke se beenmurg kweek. Hierdie stamstelle skep nuwe paaie na haar brein wat van haar liggaamfunksies soos eet, drink en loop kan verbeter.

Mienke kry ook elke week spraakterapie, arbeidsterapie, hidroterapie en ook terapie deur middel van ‘n hipobarise suurstofapparaat.

Haar onlangse besoek aan die hospitaal het beteken dat hulle van ander melk vir haar gebruik moet maak. Hierdie nuwe melk is minder afgebreek as die vorige tipe. “Dit is dus moeiliker vir haar organe om te absorbeer. Dit is goeie nuus vir ons aangesien dit beteken dat haar organe wil en kan harder werk,” vertel Ryno opgewonde.

Vir meer inligting oor hoe om ‘n skenking te maak, gaan na die gesin se Facebook-blad Please Pray for Mienke.

LEES OOK: Baby Mienke goes home for good

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button