Local newsNews

Sangeresse sing die Barnyard aan die brand

'n Vrou se besonderse stem laat haar telkemale as die wenner van 'n jaarlikse talentkompetisie wegstap

Carina Knoesen is al ‘n ou hand as dit by hierdie kompetisie kom en skop gereeld stof in ander deelnemers se oë.
Vir die afgelope ses jaar hou Samancor Chrome ‘n talentkompetisie by die bekende Rockwoodteater by die Barnyard in Parkview. Werknemers van die groep kan in verskeie kategorieë inskryf en deelneem. Jaarliks tree bekende akteurs as beoordelaars op en vanjaar was Liz Meiring een van hulle.
Knoesen het dié jaar besluit om haar vriendin, Felécia Pretorius te nader om ‘n duet te doen – en sowaar daar stap hulle met die eerste plek en ‘n stewige bedrag in die sak weg.
Knoesen vertel dat haar liefde vir sang eintlik begin het toe sy as sewejarige op haar juffrou se troue gesing het. Deur die jare het sy aan baie konserte deelgeneem en het onlangs as voorsanger by een van die plaaslike kerke aangesluit.
Pretorius kom uit ‘n musikale gesin, maar sê sy het nog nooit formele sangopleiding gehad nie. Sy is gretig om weer volgende jaar saam met haar vriendin deel te neem.
Hierdie twee vroue steek beslis nie hulle talente onder ‘n maatemmer weg nie – hulle woeker daarmee en geniet hulle gate uit.
Knoesen wil graag haar werkgewer bedank vir al die beplanning, die geleenthede en blootstelling wat met hierdie geleenthede gepaard gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button