Ken jy jou dorp?
Lydenburg Dienssentrum bied Saterdag 24 November die Groot Raaisel-pretloop aan waar pret en dinkwerk hand aan hand loop

Dit wyk af van die normale en wil inwoners, volwassenes, kinders en besighede betrek om hulle kennis van die dorp te toets en om inligting oor die dienssentrum deur te gee.
Spanne van vyf persone kan inskryf. ‘n Vereiste is dat laerskoolkinders wat ‘n span vorm, vergesel moet word deur ‘n volwassene of hoërskoolleerling.
Volgens Shaunette Erasmus, bestuurder by die sentrum, spring spanne by die dienssentrum weg en moet hulle verskillende leidrade volg wat by elke punt (wat of ‘n sakeonderneming of historiese plek mag wees) aan hulle gegee sal word.
“Spanne kry ‘n legkaartstuk by elke punt waar hulle aandoen wat dan op die einde ‘n foto van die dienssentrum vorm. Agterop elke legkaartstuk is ‘n brokkie inligting van die sentrum.
“‘n Vereiste is dat spanne ‘n selfie by elke punt neem. Wanneer al die punte besoek en al die legkaartstukke versamel is, mag hulle terugkeer na die sentrum.”
Allerlei gelukspryse soos onder andere vir die bes geklede span, beste spangees en volgens ouderdom sal aan spanne uitgedeel word. Vir die wenspan wat die volledige legkaart, foto’s en leidrade by die eindpunt inhandig, is ‘n groot prys op die spel. Tyd speel ook ‘n rol. Die wenspan sal ook die pretloop in die kortste tyd moet voltooi.”
Registrasievorms is by Lydenburg Dienssentrum in Rensburgstraat 42 beskikbaar. Inskrywings kan vanaf 08:00 op 24 November by die diensseturm gedoen word. Die wegspringtyd is 08:30. Inskrywingsgeld is R150 per span.
Lydenburgers word aangemoedig om hierdie Groot Raaisel-pretloop met ‘n kinkel te ondersteun. Die dienssentrum verrig ‘n ontbeerlike diens aan senior inwoners in die dorp en befondsing is nie altyd voldoende om die taak te verrig nie.
Vir meer inligting skakel Erasmus by
013-235-3875.
