Die liefdesverhaal van ware sielsgenote
Sabie-inwoners, Henk en Stephanie Rappard het onlangs hulle boek, Die Rooi Trem in die dorp bekendgestel.

Vriende en familie het die geleentheid saam met hulle in die Woodsman Restaurant gevier.
Henk en Stephanie het hulle gaste om die beurt meer oor die inhoud van hulle boek vertel.
Die getroudes het mekaar in 1972 laas gesien en mekaar ná 40 jaar vir die eerste keer weer ontmoet. Henk, ‘n Nederlander van Den Haag, was in die sestigerjare vir drie jaar in Suid-Afrika en het Stephanie op skool in Sasolburg ontmoet.
Hulle was “gekys” en het groot planne vir die toekoms gehad. Hulle wou trou en ‘n lewe saam begin. Hy is egter in 1972 terug Nederland toe om sy militêre diens daar te voltooi.
Stephanie is universiteit toe. Hulle het kontak probeer behou maar moes na 18 maande moed opgee – kommunikasie was net té moeilik in daardie dae.
Elk het in sy/haar land met hulle eie lewe aangegaan, ander mense liefgekry, getrou en kinders grootgemaak.In 2012 het Henk na ‘n mislukte huwelik na Stephanie begin soek op die internet en haar opgespoor.
Hy het vir haar geskryf en hulle het dadelik weer die ou aangetrokkenheid tot mekaar ervaar. Binne enkele maande het hulle mekaar daar op Schiphol, Nederland, vir die eerste keer weer na vier dekades gesien.
Die boek handel oor die eerste twee jaar ná hulle herontmoeting in 2012. Stephanie, ‘n reisjoernalis van Sabie, het tydens haar verblyf in Nederland hulle lewensverhaal in kortverhaalformaat begin vaspen.
Dit het later tot ‘n volwaardige boek ontwikkel met Nederlandse stukkies deur Henk geskryf en bevat ook ou liefdesbriewe, vertellings van oral waar hulle in Den Haag gewoon het en reise wat hulle saam onderneem het.
Hulle is ook gekonfronteer deur bagasie, ou energieë en spirituele gewaarwordinge.Die paartjie beskryf die lag en trane van so ‘n samekoms na soveel jare en hoe hulle alles oorkom het om eindelik as senior mense sielsgelukkig saam in Sabie te kan woon.
Die Rappards glo vas dat hulle sielsgenote is wat noodwendig weer eendag bymekaar moes uitkom. Die boek is by die uitgewers beskikbaar: www.naledi.online/product/die-rooi-trem/ of vir ‘n getekende boek, bestel direk by die skrywers: www.rimpeleffek.com/bestel-ons-boek-geteken.html.
