Te veel vrae na vrou se dood
Volgens polisieverslae het Maryke ernstige kop, skouer en beenbeserings opgedoen. Sy is op die toneel dood verklaar.

LYDENBURG – Maryka Kleinhans (31),
wat tot verlede jaar nog by The Hair Lab as haarkapper gewerk het, is Sondagaand in raaiselagtige omstandighede dood.
Sy en haar vriend van die afgelope drie
maande, Awie Geldenhuys, het glo die
dag by Loskopdam deurgebring voor die
tragedie hom afgespeel het.
Na wat verneem word, het Maryka glo
by Kranspoort uit ‘n bewegende motor
gespring. Die vakansiedorp is geleë tussen Middelburg en Groblersdal.
Geldenhuys is ‘n polisiekaptein in Witbank en het, na wat beweer word en wat hy aan die Middelburg Observer vertel het, erken dat hulle die betrokke aand ‘n “klein” argument gehad het.
Hy is die enigste persoon wat ten tyde
van Maryka se dood, daar was.
Petro Bezuidenhout, Maryka se ma, het
aan Steelburger/Lydenburg Nuus gesê dat hulle met talle vrae na haar dood gelaat is.
“Maryke is Sondagaand dood. Ons is eers
die Maandag in kennis gestel. Ons moes by ander mense hoor van ons dogter se dood. Awie het ons nie eens gesê nie.”
Volgens Petro het haar dogter hulle
gereeld gebel van Geldenhuys se selfoon af. “Hy het dus ons nommers gehad. Ons het hom nooit ontmoet nie, maar hy het geweet waar ons bly.”
Maryka het glo na die argument met
Geldenhuys agter in die motor geklim. Dis toe dat sy vermoedelik uit die bewegende motor gespring het.
Volgens polisieverslae het Maryke ernstige kop, skouer en beenbeserings opgedoen. Sy is op die toneel dood verklaar.
Intussen is bevestig dat die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat die saak ondersoek. ‘n Saak van strafbare manslag is geopen.
Petro vertel dat hulle verslae is oor hulle
borrellende dogter se dood. “Ons is so
geskok en so deurmekaar. Maryka was altyd vriendelik en het altyd gelag. Sy was van skool af ‘n happy-go-luckykind. As ‘n mens terugdink sien mens haar laggesig.
Sy was altyd baie vrolik. Maryke was baie lief vir haar driejarige dogtertjie en was ‘n baie goeie mamma. Haar kind het altyd eerste gekom.”
Fran le Roux wat saam met Maryka by
The Hair Lab by De Ark Gastehuis gewerk het, het aan die koerant gesê dat dit met ‘n swaar hart is dat hulle afskeid neem van ‘n groot siel. “Dit was ‘n voorreg om haar as ‘n deel van ons lewe te kon hê. Sterkte aan al Maryka se kliënte, vriende en familie. Sy sal gemis word.”
Maryka se begrafnis vind Maandag om
11:00 vanuit die Evangelies Gereformeerde Kerk in Witbank plaas.
MEER INLIGTING:
• Maryka het van Augustus tot en met
Desember verlede jaar by The Hair Lab
as haarkapper gewerk. Sy het egter na
Middelburg verhuis om nader aan haar
dogtertjie te wees wat in Hartbeespoort bly.
• Sy het haar eie salon in Northgate-
winkelsentrum in Johannesburg gehad en
het ook by die bekroonde salon, Jeauval
gewerk. Maryka was ook onder meer stilis
vir die bekende sangroep, Parlotones.
• Sy word oorleef deur haar ouers, ’n suster,
’n broer en haar driejarige dogtertjie.
