Van reënval kan jy hierdie oom niks leer nie
Oom Salmon Joubert het iets by sy pa geleer wat vandag van groot waarde is, en sy wens is dat sy seuns dit ook sal volhou die dag wanneer hy nie meer daar is nie

Afgesien daarvan dat Oom Salmon ‘n suksesvolle eienaar van drie plase in die Watervalsriviervallei is waar hy met verskeie gewasse boer, hou hy al 34 jaar lank boek van die vallei se reënval. Hy het in 1985 begin om die neerslae aan te teken.
Sy ouers het geboer. Ná skool het hy ‘n BA-graad aan die Universiteit van Noordwes verwerf, maar hy het geweet boerdery is in sy bloed. Vir hom was daar net een uitweg: om sy eie plaas te besit.
Sy pa het aan hom ‘n voorskot gegee en so het sy droom gerealiseer. Hy is in 1974 getroud en hy en sy vrou het drie seuns. Gelukkig vir hom wou hulle ook al drie boer.
Hy vertel dat sy pa die reënval altyd noukeurig dopgehou en opgeteken het. Hy het aangeneem dit is wat alle boere doen, en het dit toe self ook begin opteken.
Volgens hom beleef ons maar altyd goeie en slegte jare met reënval. In die jaar 1995/96 het hy 867 millimeter reën – die meeste nog in sy boek – aangeteken. Die laagste reënval was in 1988/89 toe daar slegs 282 millimeter reën geval het. Die gemiddelde reënval oor die jare (wiskundig bereken) is 562 millimeter per jaar.
“Ek sien nie groot probleme met reënval in die toekoms nie. As boer leer jy om te bid vir reën en dan glo jy dat daar voorsien sal word,” vertel Oom Salmon.
Bid is een ding wat hom nog nooit in die steek gelaat het nie. Sy verslae is nou selfs elektronies beskikbaar, akkuraat en altyd gereed.
Hy het agt reënmeters op die drie plase maar skryf net die lesing op van die een by sy huis sowat 17 kilometer buite die dorp. Die reënval op die dorp en omliggende gebiede kan dus van syne verskil.
Oom Salmon het baie interessante staaltjies oor hewige storms te vertel, en een in besonder staan vir hom uit.
“Daar was ‘n troue in die vallei. Al die mense was daar want die gemeenskap was maar klein. Dit het so baie gereën dat die riviere deur die berge en oor brûe gespoel het. Die gaste was almal gestrand en moes maar slaapplek kry waar dit ook al beskikbaar was. Een boer het op ‘n briefie instruksies geskryf van hoe sy diere versorg moes word. Hy het toe die briefie aan ‘n klip vasgemaak en dit oor die rivier na sy werker toe gegooi.” Dit is een van die verhale wat sy pa aan hom vertel het.
Sy hoop is dat sy seuns die boekie met reënval-statistiek by hom sal oorneem wanneer hy dit nie meer kan doen nie en dat dit vir nog vele jare vorentoe betekenis sal hê.

